Positiewe verandering begin by een mens en kring dan uit na ander. Jou klein bydrae kan ’n groot verskil maak …

gee …

Wat jy het om te gee. Doen goed aan ander mense sonder dat hulle aan jou hoef goed te doen. Moedig hulle ook aan om dieselfde te doen. Dit kan ’n kettingreaksie van goeie dade tot gevolg hê wat dalk net weer aan jou deur kan kom klop!

bou …

Goeie verhoudings met mense vir wie jy lief is, ook met dié wat soms op jou spiere werk. Onthou, Jesus het veral verhoudings gebou met bedelaars, tollenaars en prostitute. Hy is die prefekte voorbeeld van iemand wat die wêreld verander het.

breek …

Die mure af wat jy in jou kop opgebou het. Die mure wat jou daarvan weerhou om aan sekere mense liefde te betoon. Die mure wat jou laat oordeel en jou in jou eie klein wêreldjie vasgevang hou. Hoe kan jy die wêreld ’n beter plek maak as jy weier om jou horisonne te verbreed? Jesus het gesê dat ons sy Woord na die uithoeke van die aarde moet versprei, maar dan moet jy eers bereid wees om die uithoeke van jou verstand vir nuwe moontlikhede oop te maak!

aanvaar …

Verantwoordelikheid vir die omgewing om jou en doen jou deel. Elkeen van ons kan klein verskille in ons daaglikse roetine maak om te help dat die aarde vir ons kinders bewaar bly. As daar ’n papier op die skoolgronde lê, tel dit op. Moedig jou ouers aan om julle glas- en plastiek-rommel in aparte vullissakke te gooi en dit vir herwinning te neem. Kyk ook uit vir die omgewingsvriendelike simbool wanneer jy weer jou deodorant gaan koop. Onthou, elke bietjie help.

spandeer

Tyd aan die dinge wat regtig belangrik is. Rick Warren, outeur van die boek A Purpose Driven Life, sê die beste manier om liefde te spel, is T-Y-D. Deur tyd aan iets of iemand te spandeer, wys jy dat jy werklik daarvoor lief is en naderhand word dit aansteeklik. Stel jouself ’n wêreld voor waarin almal in liefde teenoor mekaar optree. Liefde, haat en geweld kan nie op een slag bestaan nie.

vergeet

Van al die slegte dinge wat ander al aan jou gedoen het! As jy leer om waarlik te vergewe en vergeet, sal jy vry word van al die onnodige bagasie wat jy met jou saamdra. Wanneer jy iets teen iemand hou, weerhou dit jou daarvan om die goeie dinge in daardie mens raak te sien. Jy kan dalk uitmis op ’n kosbare vriendskap … of selfs die liefde van jou lewe!

onthou …

Om altyd dankie te sê. ’n Dankbare hart is nie selfsugtig nie en glo nie dat ons doel op aarde is om skatte bymekaar te maak nie. Onthou altyd dat jy nie jou Guess-handsak en lipgloss kan saamvat hemel toe nie!