Jou pa kan jou ou nie verdra nie, jou ma kla oor alles wat jy aantrek en jy is al moeg geluister na preke oor jou selfoon. lees hier hoe jy hulle vertroue kan wen …

Die voordele van jou ouers se vertroue is eindeloos. Hoe meer hulle jou vertrou, hoe meer vryheid sal hulle jou toelaat en hoe minder agterdogtig sal hulle wees. Wanneer jy oud genoeg is, sal hulle jou selfs toelaat om die kar te leen! Om hulle aan jou kant te kry, kos net ’n bietjie verantwoordelikheid.

jou vriende

Soms voel dit asof jou ouers glo al jou vriende is boos. Hulle sal egter baie rustiger voel as hulle weet saam met wie jy kuier. Vertel hulle wie jou vriende is, hoekom jy van hulle hou en wat julle alles aanvang. Hou ook by die reëls. As julle ooreengekom het dat jy op ’n sekere tyd by die huis sal wees, wees sommer ’n paar minute vroeg. Só wys jy vir jou ouers dat jy verantwoordelik is wanneer jy saam met jou vriende kuier.

jou ou

Jou pa sal jou altyd sien as sy klein dogtertjie wat hy moet beskerm. Daarom moet jy hom oortuig dat daardie spesiale ou nie beplan om jou seer of kwaad te maak nie! Stel hom so gou as moontlik aan jou ouers voor. As hy wel by jou pas en die moeite werd is, sal hy en jou pa mekaar verstommend vinnig om die braaivleisvuur vind! Jou ma sal hom ook vinnig onder haar vlerk neem as sy sien hy het mooi maniere.

jou klere

Dis moeilik genoeg om klere te kry wat reg lyk én pas sonder dat jou ma heeltyd moan oor wat jy aantrek. Wil sy dan hê jy moet ’n polonek-hemp en ’n romp tot op jou voete dra? Ongelukkig gee klere wat te styf of baie oop is ouens die verkeerde idees. Luister maar wat hulle sê as ’n meisie verbystap met ’n lae jean wat styyyyf sit! Probeer om ’n middeweg te vind – as die toppie wat jy kies nie heeltemal so styf sit nie, koop jou ma hom dalk met ’n glimlag.

jou selfoon

Jy is seker al moeg geluister na die gevare van MXit en hoeveel jou SMS’e jou ouers kos! Die enigste manier om hulle stil te maak, is om verantwoordelik op te tree. Sorg dat jy nie by die skool in die moeilikheid beland omdat jy in die klas sit en chat nie en bêre maar jou selfoon wanneer hulle met jou wil gesels of wanneer julle eet. Werk ook mooi met jou lugtyd sodat dit nie te vinnig opraak nie. As hulle sien dat jy daarmee uitkom, gee hulle dalk vir jou ’n selfoonkontrak … of kan jy ten minste jou foon geniet sonder dat dit heeltyd afgevat word!