Daardie duur botteltjies parfuum waarna jy so smag wanneer jy deur die winkels drentel, is nie ’n patch op jou geestelike geur nie. lees hier hoe jy dít in die wêreld kan versprei …

Die Italiaanse mode-ontwerper, Gianni Versace, was heeltemal in die kol toe hy gesê het: “Perfume is an invisible extra that completes a woman’s personality. Without it, there is something missing.” Die ritueel van parfuum-koop is wonderlik en opwindend … Eers die opwinding om die winkelrakke te browse, so asof jy sommer met gemak ’n paar botteltjies kan aanskaf!

Dan die voorreg om jou polse, hals en later enige plek waar jy kan bykom (want dis mos gratis) te bespuit met soveel parfuumgeure as wat jou neus kan hanteer.

Die derde stap is die belangrikste en sal bepaal of die mooi botteltjie met die lekkerste geur jóúne gaan word. Jy het
gewoonlik twee opsies: jy moet diep in jou beursie krap vir die sakgeld wat jy gespaar het, óf jy moet jou ma laat glo as sy dié parfuum vir jou koop, dit haar beste belegging ooit sal wees. Jy sal skottelgoed was, tafel dek en selfs jou sussie met haar huiswerk help …

Min dinge laat ’n meisie só spesiaal voel soos regte, egte parfuum waarvan die geur vir ure lank sag, sensueel en met  ’n tikkie mistiek om jou hang. Die goeie nuus is dat duur, Franse parfuum nie al manier is om jou aangename geur in hierdie wêreld te versprei nie. Jou geestelike geur is selfs meer effektief (en bekostigbaar), want … jy koop dit nie met geld nie … die geur kan nooit afwas nie … die botteltjie kan nooit leeg raak nie … en jy kan meer as een geur op ’n slag gebruik. En hoe meer jy gebruik, hoe meer druppels sal jy op die mense om jou ‘mors’. Kom browse deur die rak van geestelike parfuum…

CK BE

Leef elke dag met die wete dat die lewe wat God vir jou beplan, selfs beter as jou idee van “paradys” is. Niks waarvan jy kan droom is so wonderlik soos sy wil vir jou nie. Hy wil en kan jou alles gee wat Hy weet jou die gelukkigste meisie sal maak.

GLOW JENNIFER LOPEZ

’n Meisie met ’n gloeiende vel is pragtig. Sy lyk gesond, aantreklik en lus vir die lewe. Maak dit elke daag jou ’n missie om jou hele lewe aan God oor te gee: jou gedagtes, woorde, dade, talente en verwagtings. Op hierdie manier sal jy nie anders kan as om van binne af te “gloei” nie.

DKNY BE DELICIOUS

Leef die dinge uit wat jy weet nodig is om aan God te behoort: glo in Hom, wees gehoorsaam aan Hom en vra Hom elke dag om jou sondes te vergewe. Om aan God te behoort, bring die heerlikste vrugte  voort: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

HUGO BOSS IN MOTION

Leef op so ’n manier dat jou woorde en dade vir ander mense onvergeetlik sal wees. Wees Jesus se hande en voete op aarde; leef sy liefde uit teenoor jou vriende en ook jou vyande uit en glimlag oor die feit dat dit jou ongelooflik kosbaar maak vir Hom.

CHARLIE WHITE BLOSSOM

Vou jouself toe in denkbeeldige wit blomblare – probeer om elke dag heilig te lewe (nie skynheilig nie) en wees  suiwer en rein van hart in alles wat jy doen en sê.

CLINIQUE HAPPY

Moenie jou geluk soek in die dinge waarmee jy jouself kan omring nie, maar in die dinge waarmee jy jou hart en gedagtes kan volmaak. Niks sal jou gelukkig maak as jy nie gelukkig is met wie jy is en waar jy jouself nou bevind nie. Geluk gaan oor jou houding teenoor die lewe. Die regte houding sal jou help om met ’n dankbare hart in die hede te leef, al droom jy oor môre.

WITH LOVE HILLARY DUFF

Sorg dat die draaiboek van jou lewe elke dag ’n uitroep-oomblik in het; ten minste een geestelike hoogtepunt wat jou eie, of iemand anders se lewe op ’n spesiale manier verryk. Wees sensitief vir die Heilige Gees se sagte stem wat
elke dag in jou binneste fluister; reageer daarop en jy sal verbaas wees oor die wonderlike dinge wat in jou lewe begin gebeur.

CELINE DION BELONG

Niks is so lekker soos om te weet dat jy iewers behoort nie. Jesus wou so graag hê dat jy aan Hom moet behoort, dat Hy vir jou sondes aan die kruis gesterf het. Jy hoef nooit weer uit te voel of te worry omdat jy nêrens inpas nie – by God is daar vir jou ’n plekkie waar jy gelukkig kan wees en jouself kan uitleef.

ENIGMA YARDLEY

Deel die een groot geheim van ’n vreugdevolle en sinvolle bestaan met almal wat dit nog nie gehoor het nie of dit steeds nie glo nie: Jesus, die koning van die heelal het elkeen van ons onvoorwaardelik lief – maak nie saak wie jy is of waar jy jouself vandag bevind nie. Jy is ongelooflik kosbaar vir Hom, nét soos jy is. Glo dit, leef dit, en maak Jesus vandag jou béste vriend. Al wat jy vir jou geestelike parfuum hoef te betaal, is die vertroue dat God alles tot jou  beswil sal laat uitwerk en die geduld om op Hom te wag. Onthou om môre-oggend ’n bietjie geestelike parfuum aan jou polse te tik. Die geur daarvan sal jou onweerstaanbaar maak!