Die lewe is kort en voordat jy jou oë uitvee, is jy 70 en sit op die stoep. Maak daarom die beste van elke oomblik…

1. Wees p- p- positief

Bedank God elke dag dat jy die son kon sien opkom. Ons fokus só op ons tekortkominge dat ons nie meer die positiewe dinge raaksien nie. Stop jouself wanneer jy te krities raak en sê eerder iets positiefs. Kyk in die spieël en bedank God dat jy jou talente kan gebruik en met oorgawe kan leef.

2. Lag

Lag as jy gelukkig voel, selfs al ervaar jy ook negatiewe gevoelens. Glimlag oor alles – selfs wanneer jy foute maak of embarrassing oomblikke beleef. Dit sal nie net mense na jou toe aantrek nie, maar ook goedvoel-hormone vrystel wat jou sal help om moeilike situasies met gemak te hanteer.

3. Aanvaar komplimente

Wanneer ’n vreemdeling jou komplimenteer is dit net ordentlik om dit te aanvaar en “dankie” te sê. Dit sal jou nie net op daardie oomblik laat goed voel nie, maar ook sommer jou selfbeeld ’n ekstra hupstoot gee.

4. Glo

Geloof is ’n baie belangrike aspek in jou lewe en dra by tot alles wat jy aanpak. As jy nie in jouself glo nie, kan jy kwalik verwag iemand anders moet in jou glo. As jy opstaan en glo dat jy stunning lyk en vandag die beste dag ooit gaan wees, sal talle mense jou komplimenteer oor hoe pragtig jy lyk en hoe lewenslustig jy die dag aanpak. Dit werk net so.

5. Wees jouself

God wil hê jy moet altyd gemaklik voel in jou eie vel. As jy voorgee om iemand anders te wees, sal jy jouself keer om die lewe werklik te geniet. Gun ander mense die kans om die oulike meisie agter die masker te ontmoet. Dit is nie die moeite werd om jouself te verander vir ’n paar mense wat jou nie aanvaar soos wat jy is nie.

6. Go for it!

Moenie halfhartig deur die lewe gaan nie. Lewe voluit, dan sal jy nooit met verwyte terugkyk nie. ’n Mens kry net een kans en daarom moet jy elke dag voluit leef. Leef elke dag asof dit jou laaste is.

7. Verander wat jy kan

Wanneer jy ongelukkig is met jouself of oor iets wat met jou gebeur, bepaal dadelik of jy dit kan verander. As die antwoord ja is, spring dadelik weg en doen wat jy kan. Moet jou egter nie deur onbenullighede laat onderkry nie. As jy toelaat dat dit jou lewe beïnvloed, gaan jy jouself nooit die kans gun om elke geleentheid met oorgawe te geniet nie.

8. Kies God

Met God aan jou sy sal jy nie sommer baie slegte oomblikke in jou lewe ervaar nie. Hy stuur wel struikelblokke oor jou pad, maar as jy berusting in Hom vind, sal hy jou die nodige krag gee om altyd die beste te maak van alles wat jy aanpak!