Wat is dit met jou en jou ma? Dit voel soms asof julle handgebare moet gebruik om mekaar te verstaan. Hoekom verstaan sy nie as jy hard en duidelik jou eie wil uitspreek nie?

Jy sê: “Ma verstaan my nie!”
Ma sê: “Ek verstaan jou, maar ek weet beter.”

Al is dit hoe hard om te sluk, weet jou ma waarskynlik beter. Sy het minstens twee keer soveel lewenservaring as jy. Wat meer is, sy verstaan dat jy in ’n ander wêreld grootword as die een waarin sy ’n kind was en dat jy baie meer dinge het om van te kies. Haar grootste begeerte is om jou te beskerm teen dinge wat jou kan seermaak.

Om mekaar te verstaan, gaan van julle albei iets vra. Jy moet geduldig wees sodat jou ma kan leer om dinge anders te sien as dertig jaar gelede. En jou ma? Sy gaan waarskynlik moet leer om eers te luister en ’n bietjie soos jy te dink. Rodney Seale sê in sy boek, Die amptelike boek vir dogters, dat goeie verhoudings op respek gebou is, en dat respek begin deur na mekaar te luister. As jy en jou ma ’n punt daarvan maak om na mekaar te luister, sal julle mekaar nie net respekteer nie, maar sommer baie beter verstaan ook!

Jy sê: “Dit is my kamer en my gemors.”
Ma sê: “Dit ís jou kamer, maar dit bly my huis.”

Hoekom kan sy nie sien dat jy jou eie space nodig het om jou persoonlikheid in uit te leef nie? Jou gemors het mos niks met die res van die gesin uit te waai nie!
Reality check…Jy bly nie alleen in die huis nie. Inteendeel, jy bly in ’n huis waar jou hele gesin die behoefte het om hul persoonlikhede uit te leef. As almal hul posters die huis vol plak en hul klere op die vloer gooi, sal dit vir niemand meer ’n tuiste wees nie.

Wanda de Kock-Bam, ma van twee tienerdogters, sê in haar boek, Inspirasie vir Ma & Dogter: “Ek sê nie jy moet in ’n kamer leef waar die res van ons weet waar om jou onder die vuil klere te soek as ons inkom nie. Al wat ek vra is, as jy van chaos hou en ons doen nié, moenie óns wêreld chaoties kom maak nie!” Niemand sê jou kamer moet so klinies soos ’n hospitaal wees nie, toon net respek vir almal wat saam met jou woon.

Jy sê: “Maar ma, ek is lief vir hom.”
Ma sê: “Hy is nie reg vir jou nie.”

“Hy’s die hunk van die skool, sy ouers is ryk en hy speel vir die eerste span. Wat maak dit saak as hy so nou en dan ongeskik is met jou? Jy weet mos hy het baie stres…”

Jou visie is ongelukkig ’n bietjie verdof omdat die sterre in jou oë skitter. Jou ma sien ook die goeie dinge raak, maar sy kan helder genoeg kyk om ook dít raak te sien wat gevaarlik kan wees vir haar meisiekind.

Sy probeer nie aspris jou fun spoil nie. Sy probeer jou hart behou. Daai ou mag dalk lyk en klink soos dié een, maar as die slegte tye meer raak as die goeie tye, is dit tyd om jou ore te spits vir dit wat jou ma raaksien. Sy besef waarskynlik dat jy amper oud genoeg is om jou eie besluite te maak, maar God het jou aan haar toevertrou. Sy kan mos nie sommer God se eiendom aan haar eie lot oorlaat nie!