“Ja-nee, vandat ou Piet mos in die eerstespan speel, het hy darem lekker grootkop gekry!” “Sarie dink sy’s die kat se snor vandat sy daai modelkompetisie gewen het.” Klink dit bekend? Grootkop. Hoogmoed. Noem dit wat jy wil.

Reeds in die paradys het Adam en Eva al grootkop gekry toe hulle soos God wou wees en die verbode vrug geëet het. Satan en sy trawante is uit die hemel gewerp omdat hy hoogmoedig geraak het en soos God wou wees.

Mense in all walks of life kry baie maklik grootkop. As jy iets bereik, of almal van jou praat, dan dink jy vinnig jy’s kaas. Baiekeer is hoogmoed net ’n front wat iemand voorhou om sy eie soeke na begrip en aanvaarding weg te steek. Ons moet sulke mense eintlik jammer kry en vir hulle bid.

Maar God verafsku hoogmoed. Hy ken die mens se hart, en daarom waarsku Hy daarteen. Hoogmoed kom tot ’n val, lui die spreekwoord. Baie mense het al alles verloor omdat hulle hoogmoedig was. Erken dat jy afhanklik is van God en graag aan Hom die eer wil gee. Want jy kan in ’n oogwink alles verloor.