Laat wat jy doen, aan die Here oor,  dan sal jou voornemens geluk.
Spreuke 6:3

As daar een ding is waarvoor die meeste van ons ys, is dit om elke somer ’n peperduur velletjie lap van Roxy of Billabong aan te skaf om al die hobbeltjies, rolletjies en dimpeltjies te probeer toemaak, sodat ons darem ’n bietjie waardigheid kan behou as almal met die fraaie lyfies loop en pronk.

Net jammer party meisies vat dié ding heeltemal te ver en ontwikkel ’n eetversteuring. Hulle verruil ’n gesonde bord kos vir ’n selderystokkie. Hul ruggraat druk deur hul maag, en hul heupbene loer vir jou.

Die probleem is dat soveel meisies na sulke girls kyk en heimlik ook so wil lyk! Navorsing wys meisies is al van ses jaar vatbaar vir dieetsiektes op grond van wat mense sê en doen. As jy meer as drie keer ’n week op die skaal klim, kosetikette lees, opgooi ná maaltye, skuldig voel ná elke bord kos en obsessief oefen, moet jy weet jy is al verby basiese liggaamsbewustheid en sit met ’n yslike probleem.

Ons Skepper het nie bedoel jy moet jou swakpunte teen ander se sterkpunte meet nie. So, as jy in die spieël kyk, sit God se bril op sodat jy met sy liefde na jouself kan kyk.

Melinda Bam