Jy sien jouself uit die limo klim met die blinste juwele en mooiste ontwerpersrok, met die laptop en designerskoene by die vergadering instap, of dalk net tevrede met jou punte …

Dis lekker om te droom oor die dinge wat ons wil bereik, maar hoe maak ’n mens dit ’n werklikheid? Dis maklik om jou oë toe te maak en die happy ending van jou suksesverhaal te sien, maar daar is ’n paar dinge wat jy eers sal moet meemaak.

waar?

Eerstens moet jy mooi dink en besluit wat jou idee van sukses is. Dis so ’n wye, aanpasbare term dat jy dit moet definieer voordat jy jou doelwitte kan vorm. Sukses beteken nie net om gelukkig en gewild te wees nie – jy moet ook dink oor jou passies, belangstellings en talente. Wees realisties en besluit wat jy wil bereik voordat jy jouself as suksesvol sal beskou. Dit kan iets groot en belangrik wees, maar ook net iets wat jy nog altyd wou doen.

hoe?

Nou weet jy waarheen jy werk. Maar hoe gaan jy daar uitkom? Gesels met mense wat dit al reggekry het of wat ook daarheen werk. Vind uit of jy hierdie droom wel ’n werklikheid kan maak – begroot hoeveel tyd (en geld!) jy nodig het. Surf die internet, snuffel in die biblioteek rond, lees tydskrifte en doen navorsing sodat jy weet waarvoor jy jouself inlaat. Beplan en skryf neer hoe jy na jou droom wil vorder – verdeel in dit in haalbare doelwitte en skryf dit in jou dagboek sodat jy weer daarna kan kyk.

begin!

Min dinge voel so belaglik soos die eerste baby steps na jou droom. Maar begin net! As jy aanhou uitstel, raak dit net weer Maandag of volgende week en op die ou end is dit jare later en kon jy jouself nog nooit aan die gang kry nie. Jy gaan aan die begin simpel en onprofessioneel voel, maar as jy eers weggespring het, sal jy nie weer terugkyk nie.

hou moed …

Dit sal die eerste rukkie vreeslik edel voel om jou ideale na te streef. Daarna raak ’n mens haastig, maar sal jy ook soms sukkel. Moenie moed opgee nie! Kyk weer in jou dagboek hoeveel mikpunte jy al behaal het en hoe lank jy al werk. Hou jou vordering dop – dis uitstekende motivering! Probeer ook jou roetine interessant hou – sit musiek by, kry vir jou ’n oefen-buddy en doen alles wat jy kan om dit meer na pret en minder na werk te laat voel. Dan moet jy net aanhou!

Droom en geniet al die moontlikhede en eindelose potensiaal wat in jou opgesluit lê. Onthou dat dit nie net moontlikhede en potensiaal hoef te bly nie – waag ’n bietjie! Sukses is soveel meer as om net bo uit te kom – dit is ’n gesindheid van tevredenheid met jouself en wat jy klaar bereik het én om soveel as moontlik pret te hê op pad na jou ideale!