Jou foon mag dalk jou kosbaarste besitting wees, maar wees versigtig dat hy nie soveel van jou tyd opvreet dat jy vir niks anders tyd het nie …

Met jou selfoon byderhand is jy altyd in kontak met die buitewêreld. Jou beste vriendin het nog skaars haar ou die eerste keer gesoen, of sy SMS of MXit jou om jou alles in detail te vertel. Dis baie cool, maar raak jy soms geïrriteerd as jou ma dreig om jou selfoon weg te vat omdat jy nooit met haar gesels nie? Dalk moet jy ’n slag dink hoe jy sou voel as sy altyd met iemand anders gesels wanneer jy met haar wil praat. Hier is ’n paar wenke om ’n gesonde balans tussen jou selfoon en jou gesin te handhaaf:

Prioritiseer

Wat is vir jou die belangrikste? Jy sien in elk geval jou vriende elke dag by die skool, so wees saans ’n bietjie meer spaarsamig met jou airtime. Jou ouers het jou geselskap ook nodig en stel ook in jou belang. Los ’n slag jou selfoon in die kamer as dit etenstyd is en gesels met hulle sonder dat die gepiep van jou foon julle die hele tyd onderbreek. Vertel hulle wat jy die dag gedoen het, wat by die skool gebeur het en vra uit oor wat hulle alles gedoen het. Niks wat jy vir jou vriende wil vertel, is so belangrik dat dit nie tot môre kan wag nie, maar as jy eers uit die huis uit is, sal jy die tyd mis wat jy met jou ouers en ja, selfs jou boeties en sussies kon deurbring. Wanneer daardie ou wat jou so MXit die dag besluit om jou te los, sal jou ma die een wees wat vir jou tee en tissues aandra en luister terwyl jy jou hart uithuil.

Maak tyd vir alles

Wanneer jou ma jou weer nooi om saam met haar op ’n shopping spree te gaan, probeer om jou selfoon ’n rukkie lank te ignoreer. Dink net hoe frustrerend dit vir haar moet wees as sy vir jou iets moois wil koop of ’n funky paar skoene vir jou wys, maar jy so besig is om boodskappe op jou foon te tik dat jy skoon in die ander mense vasloop! Maak ’n doelbewuste besluit om hierdie tyd saam met jou ma deur te bring en jou aandag op haar te vestig. Jy kan selfs vir jou vriende sê dat jy ’n rukkie lank uitgaan en nie sal kan gesels nie. En wie weet, as jy ’n slag jou foon bêre, nooi jou ma jou dalk meer gereeld om saam met haar te gaan shop!

So voordat jy volgende keer “wmj?” tik, dink wanneer laas jy sommer om die kombuistafel met jou ma gesit en gesels het terwyl sy vir julle aandete voorberei. As jy ’n paar aande wonder wat jou vriende doen, het hulle dalk môre by die skool iets interessants om jou te vertel …

Melinda Bam