Jy op jou beste kan regtig gebeur. Dit is ’n iets wat binne jou moet begin maar aan die einde sal almal dit kan sien…

  1. begin binne

Iewers tussen die geraas van jou haardroër, musiek en jou vriende se stemme sit daardie klein stemmetjie wat in jou hart praat. Dít is die stem van die meisie wat God geskep het. Luister daarna en jy sal die doel vind wat Hy vir jou het.

  1. groei vere

As jy spreekwoordelike vere groei, sal die dinge wat jou negatief kan beïnvloed soos water van ’n eend se rug afloop! Vere gee ook vlerke en gee jou die vermoë om hoog bo-oor dinge te vlieg wat jou onderkry.

  1. vat tyd

Om waarlik jy te wees, moet jy eers jouself leer ken. Die beste manier om dit te doen is om ’n bietjie ‘ek-tyd’ te vat. Ons raak almal so vasgevang in ons besige lewens dat ons vergeet om ons siele te laat rus. Vat elke week so ’n paar ure. Gaan sit onder ’n boom of in jou kamer en lees jou Bybel, skryf in jou dagboek, of sit sommer net en dink oor jouself en die dinge wat jy daagliks doen.

  1. skyn

As jy jou glimlag, vriendelikheid en geduld na buite laat skyn en dit die wêreld instuur, is die kanse baie goed dat jy dit dubbel terug sal kry. Onthou, die Bybel sê dat jy sal maai wat jy saai. Wie weet, jou spontane glimlag vir ’n vreemdeling kan dalk net wees wat hy nodig gehad het om die dag te face.

  1. glo in jouself

Niemand kan ’n beter jy wees as jyself nie. God het jou met ’n plan gemaak en daarom het Hy ook vir jou al die talente en vermoëns gegee om daardie plan mee uit te voer. Dit vat guts om dinge self te doen, maar glo in jouself. Jy het klaar al die gereedskap ontvang, gebruik dit net!

  1. leef met liefde

Liefde is die eerste en die grootste gebod, maar dit is ook jou sleutel tot ware geluk. Om in elke situasie met liefde op te tree is nie altyd maklik nie. Dit maak egter nie net van jou ’n gelukkiger mens nie, dit help jou ook om hegte, betekenisvolle verhoudings te bou. Onthou, jy kan in ELKE situasie kies om met liefde op te tree.

  1. waardeer wat jy het

Ons ontvang elke dag arms vol seëninge wat ons nie eers in ’n leeftyd kan opgebruik nie. Tog wil ons altyd meer hê. Doen jouself ’n guns en maak jou oë oop, kyk rondom jou hoeveel kinders in jou eie dorp of skool in nood is en tel jou seëninge. Gaan op jou knieë en sê dankie vir kos, klere en liefde elke dag.

  1. begin nou

Van uitstel kom afstel. Moenie die dinge wat jy wil doen tot môre uitstel nie – dit mag dalk te laat wees. Gaan sê nou vir jou ma jy is lief vir haar, gaan kuier nou by daai vriendin met wie jy baklei het en maak nou ’n commitment aan God.