Party tieners sien dit kom – die geskree, baklei, trane, stilstuipe en deure wat toeslaan. ander is heeltemal uit die veld geslaan as hulle hoor hul ouers gaan skei. hoe cope jy met jou ouers se egskeiding as dit voel of alles onderstebo gegooi is?

 

Jy is veronderstel om jou tienerjare te geniet, maar skielik moet jy kant kies tussen jou ouers, jou ma se beursie loop gouer leeg en boonop lyk jou pa soos ’n verliefde tiener. Hannes Nagel (predikant en berader) en Heleen Roets (opvoedkundige sielkundige) het raad vir al daai catch 22-situasies.

 

  1. as ek moet kant kies

Onthou dat dit nie jy is wat skei nie, maar jou ouers. Moenie betrokke raak by hul konflik met mekaar nie. Niemand mag van jou verwag om te kies nie – jy het nog albei jou ouers en hulle sal altyd jou ouers bly. Jy het ook die reg om albei onvoorwaardelik lief te hê en jy mag dit wys deur die manier wat jy optree.

 

  1. as ma se beursie gouer leeg raak

Dit is moontlik dat jou pa en ma ná die egskeiding finansieel slegter af kan wees, want twee huishoudings moet nou met dieselfde geld aan die gang gehou word. Hulle behoort jou te vertel van enige finansiële veranderinge en wat jy moontlik kan verwag. Jy kan van jou kant af ’n bydrae maak deur ’n  naweek- of vakansiewerk te kry om vir jou goedjies te koop wat jy graag wil hê, maar nie noodsaaklik is nie.

 

  1. as pa of ma iemand anders ontmoet

Die kans dat een of albei jou ouers weer kan verlief raak en trou is nou maar een maal iets waarvan jy nie kan wegkom nie. Die feit dat jou ouers nie meer vir mekaar lief is nie, maar vir iemand anders, maak hulle nie minder lief vir jou nie. Onthou, om ’n goeie verhouding met ’n stiefouer te hê beteken nie dat jy nou skielik minder lief is vir jou regte ouers of die een bo die ander kies nie.

 

  1. as ek een van hulle nodig het

Dit is jou reg om vir albei jou ouers te sê dat jy wil hê een van hulle moet saam met jou na ’n byeenkoms by die skool gaan, al is dit nie daardie ouer se naweek nie. Praat met albei van hulle en maak seker albei verstaan en niemand voel nie te nagekom nie. Dit is belangrik dat julle mekaar in ag neem.

 

  1. as ek van my boers en susters geskei word

Hou die kommunikasiekanale tussen julle oop. Laat jou ouers verstaan jy het gereelde kontak met jou broers en susters nodig en dat die kuiers so gereël moet word dat julle almal saam by dieselfde ouer is. Ander moontlikhede is SMS, MXit, gereelde oproepe en email om op hoogte te bly met dinge in die ander se lewens.