Nie een van ons wil wegraak tussen die mense om ons nie – jy hoef ook nie! jy kan ’n verskil in ander mense se lewens maak.

maak ’n plan

Dit help nie jy wil mense help en jy dagdroom net daaroor nie. Kom aan die gang! Wat pla jou? Is daar iets wat jy daaraan kan doen? Besluit waar jy ’n verskil wil maak of betrokke wil wees. Dalk het jy ’n sagte plek vir diere. Dan kan jy gerus by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) gaan hoor of hulle nie dalk hulp nodig het nie. Dalk sal jy ’n plan moet maak om iets nuuts te begin soos ’n leesprojek vir blinde mense in jou omgewing. Besluit wat jy wil bereik en hoe jy dit gaan regkry. As dit baie tydrowend gaan wees, kan jy vriendinne kry om jou te help. Stel vir jouself realistiese doelwitte.

gee babatreetjies

Moenie probeer om die wêreld binne een dag te verander nie. Alle groot projekte het klein en nederig begin – gewoonlik sonder enige geld! As jy net voortstorm en dinge begin doen, gaan almal om jou ook moedeloos en moeg word. Wees vriendelik en positief en gee aandag aan die mense om jou. Dan sal jy ’n groot verskil in hul lewens maak. Jy hoef nie ’n aangeplakte glimlag op te sit nie. As jy net luister en iemand moed inpraat, kan jy sy dag maak.

kyk om jou

Soms vergeet jy van die mense in wie se lewens jy die maklikste en die grootste verskil kan maak: jou vriende, klasmaats en jou gesin. Dis die mense wat jy gereeld sien en baie goed ken. Jy weet dus wat hulle nodig het en wat vir hulle lekker is. Dalk kan die ou buurtannie nie meer self inkopies doen nie – help haar! As jou ma dalk baie werksdruk het en moedeloos is, kan jy vir haar ontbyt maak of saam met haar gaan stap. Om mense te help, is nie brain surgery nie!

fokus op jou talente

Elkeen van ons het iets waarin ons goed is. Sommige dinge kan ons sonder enige stres afhandel, terwyl ander vreeslik sukkel om dit te doen. Dink ’n bietjie na oor jou talente – of vra iemand wat jou goed ken om jou te help. Identifiseer dit en fokus dan daarop. As jy dalk kunstig is, kan jy gerus aanbied om in die vakansie kinders te help met kuns. Gaan hoor sommer by die biblioteek of hulle jou nie wil help nie. Jy kan jou talente gebruik en ontwikkel om lig in ander se lewens te bring.

wees net jouself

Dit klink al na ou nuus, maar dis waar! Jou persoonlikheid, talente en gawes is uniek. Jy kan jou unieke self gebruik om ander mense te help. So, wees net jouself en kyk hoe jy met jou gawes ’n verskil kan maak.