sukkel jy om met jou ouers oor die weg te kom? voel dit asof hulle nie van jou hou nie? hier’s ’n paar wenke om hulle te beïndruk.

Jy het te cool geword en jou ouers verstaan buitendien nie die hele tienerding nie. Dit voel asof hulle nie meer van jou keuses (of van jou!) hou nie. Só kan jy die situasie red:

bied aan om te help

Ma’s hou daarvan as jy aanbied om te help. Help haar om die tafel af te dek of skottelgoed te was. Jy kan selfs aanbied om te help kosmaak, al sny jy net die tamaties vir die slaai. Daar is niks wat ’n vrou so negatief maak as om alleen in die kombuis te swoeg terwyl almal kuier nie. As jy haar help, het sy darem geselskap. En sy sal baie dankbaar wees daarvoor.

komplimente, komplimente

As die kos lekker was, komplimenteer jou ma. Vertel jou pa hoe baie jy nog altyd van sy karretjieversameling of wat ookal hou of hoe mooi julle tuin is. Dit is lekker vir ’n hulle om te hoor dat jy hulle nog waardeer en dat jy nie Mxit bo jou gesin kies nie. Jou ouers hou van komplimente, veral as dit opreg en eerlik is.

vergeet van katgevegte

Moenie net jou ouers probeer beïndruk nie. Maak ook ’n punt daarvan om saam met jou boeties en sussies te kuier. Dit is ook belangrik vir jou ouers, want dit kan nie lekker wees om die hele tyd na ’n klomp kinders se bakleiery te luister nie.

sit jou beste voetjie voor

Goeie maniere het niemand nog ooit skade aangedoen nie. Luister na almal se gesprekke en lewer die gepaste kommentaar – moenie te bang wees om iets te sê nie. Goeie tafelmaniere is ook belangrik. Jou ma sal sommer ’n ekstra laaiking in jou kry as sy sien jy pas die maniere toe wat sy jou geleer het.

moenie fyngevoelig wees nie

As ’n mens in jou tienerjare is, raak dinge partykeer te veel. Moet egter nie dink jou ouers val jou aan as hulle jou persoonlike vrae vra nie. Hulle stel net belang en wil die beste vir jou hê. Moenie iets negatiefs lees in alles wat hulle doen of sê nie. Ouers vra maar soms net te veel vrae. Onthou net, hoe eerliker jy antwoord, hoe meer vertroue het hulle in jou.  En wie weet, dalk mag jy volgende keer tot 23:00 by die sokkie bly.

praat oor jouself

Dis belangrik dat jy oor jouself praat, sodat dit nie lyk asof jy iets wegsteek nie. Handhaaf tog net ’n balans en moenie oorboord gaan nie. Vertel vir jou ouers wat jou toekomsplanne is. ’n Doelgerigte mens maak altyd ’n goeie indruk.

gesels met jou ouers

Moenie soveel aandag aan jou vriendinne gee, dat jou ouers afgeskeep voel nie. Dis baie belangrik wat jou ouers van jou dink. As hulle van jou hou, kan die lewe net soveel makliker wees.