Ons is soms so oorweldig deur die donker wolk, dat ons glad nie die silwer randjie sien nie. dis nie maklik om deur moeilike tye te kom nie, maar jy kan die blink kant bo hou en die beste van ’n slegte saak maak.

die groter prentjie

Probeer eers perspektief kry. Dink ’n bietjie: Hoe erg is jou probleem regtig? Is dit werklik die einde van die wêreld, of is dit net ’n enkele terugslag? Jou vriendin het jou dalk gedrop. Moet jy nou die hele vriendskap weggooi, of moet jy net versigtig wees en haar nie so maklik vertrou nie? As jy weet wat jy wou bereik het, kan jy besluit of hierdie werklik ’n mislukking is, of net ’n ligte stampie is op jou pad na sukses.

verander jou plan

As jou planne nie dadelik (of selfs ná baie moeite) wil uitwerk nie, kan jy nie net jou handjies in die lug gooi en kla dat dinge net altyd verkeerd loop nie. Moenie so maklik tou opgooi nie. Wat is plan B? Wees prakties en realisties, maar maak ’n plan! Anders moet jy dalk jou einddoel heroorweeg en kyk wat jy kan regkry. As daar enige manier is dat jy nog die situasie kan red, probeer dit!

game over

Partykeer weet ’n mens mos net as ’n plan misluk het. As jy alles probeer het en nie gekies is vir die span nie, kan jy niks daaraan doen nie; jy moet dit ongelukkig so aanvaar. Dis nooit lekker om te misluk nie én dit dan te erken nie, maar dit help nie om ’n vrugtelose gesukkel onnodig uit te rek nie. Dink weer oor wat jy gedoen het om jou ideale te bereik. Dis ’n pynvolle proses om uit jou foute te probeer leer, maar as jy dit kan regkry, was die ervaring die moeite werd.

veg of vlug

Die hartseer realiteit is dat mense se grootste nagmerrie en vrees wel partykeer  waar word. Die realiteit is so aaklig en seer, dat jy net iewers wil wegkruip – daar is in elk geval niks wat jy kon doen om dit te keer of verander nie. As iets so finaal en traumaties gebeur, soos dat iemand vir wie jy baie lief is doodgaan, kan jy dit  nie verander nie. Maar jy moet kies dat dit nie jou toekoms gaan steel nie. As jy sukkel om te cope, maak ’n afspraak en kry hulp. Of gesels met mense wat jou kan help. Al kan dit nie jou situasie verander nie, kan dit jou help om die realiteit te hanteer.

vangnet

Die kanse dat jy heeltemal alleen in jou situasie is, is maar klein. Dit beteken dat daar mense is wat saam met jou sukkel. Praat met mekaar, en help mekaar – ’n gedeelde gesukkel of swaarkry is makliker om te hanteer! Moenie alles alleen probeer beheer nie. Sien ander mense se pogings om jou te help, raak – en waardeer dit.