mans is van mars en vroue van venus. maar is ouers dan van jupiter? voel dit soms asof jou ouers van ’n ander planeet moet wees? dis asof julle nie kan kommunikeer nie – so amper asof julle heeltemal verskillende tale praat. as jy hierdie vreemde wesens wil verstaan, moet jy hier lees.

die onderonsie oor die outfit

“Jy gaan beslis nie in daai klere uit nie!” Dié bekende woorde van pa’s het elke tienermeisie seker al ’n paar keer tot raserny gedryf. Gewoonlik is jou pa reg.
Jy moet onthou dat jou pa ook ’n man is en hy weet hoe ouens dink. As hy dink dat iets uitlokkend is, is dit waarskynlik so.

Jou pa wil nie hê dat jy dalk ’n slegte naam onder die ouens moet kry nie. Hy sê dit nie net om moeilik te wees nie hy gee om.

die uittrap oor tegnologie

Trap jou ouers jou gedurig oor Whatsapp en Facebook uit? Dalk verstaan hulle net nie heeltemal wat dit is nie. Jou ouers is nie so tegnologie-slim soos jy nie. Al die rekenaars en selfone en dinge het hulle heel onkant gevang. Sit een middag en verduidelik dit aan hulle.
Jy kan selfs vir hulle wys hoe dit werk. Dalk sal hulle beter voel as hulle weet jy gebruik dit verantwoordelik en dat jy nie een van die statistieke sal word waarvan hulle in die koerant lees nie.

die fight oor die vriende

Dis een van die aakligste dinge wat kan gebeur: Jou ma-hulle hou nie van jou vriende of jou ou nie. Voordat jy jou vererg en die deur agter jou toeslaan, dink eers ’n bietjie hoekom hulle nie van die persoon hou nie.
Het julle al rustig oor jou ouers se redes gepraat?

Dalk het hulle ’n punt beet.
Onthou dat jou pa en ma baie meer mensekennis as jy het en as buitestanders kan hulle dalk makliker ’n potensiële gevaarsituasie raaksien.
Luister ’n bietjie na wat hulle sê, want dit kan jou dalk seerkry spaar.

vyande word vriende

Die belangrikste ding is dat jy en jou ouers met mekaar moet praat. Dis nie altyd maklik nie, maar dit is só nodig. Moenie jou ouers beskou as jou vyande nie, maar eerder as moontlike vriende.
Hulle wil net die beste vir jou hê en probeer jou beskerm teen die aanslae van die lewe. Dit is nie altyd moontlik nie en daarom sal hulle juis verbete veg om dit reg te kry. Jy verstaan nie altyd hulle optrede nie en dit maak jou kwaad, maar die dag as jy kinders het, gaan jy hulle ook net wil beskerm. Gesels met jou ouers oor die dinge wat hulle en jou pla, dit kan net help om jul verhouding te verbeter.
Die enigste manier om mekaar te verstaan, is om te kommunikeer. Selfs al is dit van ’n ander planeet af. En onthou, jy gaan ook eendag op Jupiter bly!