Jy het óf te veel tyd, of heeltemal te min. maar dis nie iets wat jy kan koop (of verkoop!) nie – jy moet dit soveel as moontlik geniet! lees hier hoe jy elke minuut kan benut.

Besluit wat jy wil doen

Om jou tyd goed te kan gebruik, moet jy eers weet waarvan jy hou en wat vir jou lekker is. ’n Mens kan so maklik die tyd wat jy het, deur jou vingers laat glip as jy net in die huis rondhang. So, besluit wat jy sal doen as jy ’n hele middag (of selfs net ’n halfuur) het om te doen wat jy wil.

Besig, besig, besig…

As jy baie besig is, kom jy by niks uit nie. Die belangrikste is om ’n lys van prioriteite op te stel. Skryf neer wat alles moet klaarkom, wat die dringendste gedoen moet word en wat eers ’n rukkie kan wag. Doen die belangrikste goed eerste. ’n Mens moet gulsig wees – selfs tien minute is belangrik en moet ten volle geniet word! Besige mense vergeet van vinnige beauty treatments, ’n ordentlike koppie koffie, of om iemand gou-gou te bel. Rus ’n bietjie en doen iets lekkers. Jy sal sommer weer lus wees vir werk!

Verveeld?

Soms is jy glad nie besig nie en dan voel dit of die horlosie vasgehaak het. Dis lekker om laat te slaap en rond te lê, maar soms sukkel jy om die tyd om te kry. Moenie swik voor die versoeking om tyd te mors nie. As jy bang is die vakansie gaan te lank raak, kry betyds vakansiewerk (dan het jy sommer geld ook!). Kry ’n lekker boek of iets anders om jou mee besig te hou – iets waarvoor jy nooit in die kwartaal tyd het nie.

Chill, girl!

Soms mors jy ure: Jy flip deur die DStv-kanale, Facebook mense wat nie regtig jou vriende is nie, of lê net op die bed. Dis oraait! ’n Mens moet soms net chill en niks doen nie – jy hoef nie altyd besig te wees nie. Doen in jou chill-tyd iets waarvoor jy gewoonlik in die eksamentyd lus is.

Begin

Mmm, klink dié tips na ’n goeie idee? Nou wag jy net vir iemand om ’n plan te sms? Hou op wag – jy mors net nóg tyd! Beplan wat jy wil doen, en begin. Moenie wag vir “eendag as ek tyd het” nie. Dis so maklik soos dit. Onthou, geniet elke oomblik!