het jy ’n skuldige gewete? steek jy iets vir jou ouers weg? voel dit asof jy van binne opgevreet word? lees hier voor jy enige vinnige besluite neem:

’n Skuldige gewete is nie ’n lekker ding om mee saam te leef nie. Veral nie as jy iets vir jou ouers wegsteek nie. Jy is gedurig gespanne en fyngevoelig. Soms voel jy só skuldig, jy kan jou ouers nie meer in die oë kyk nie. Ontspan, ons het raad:

vertel die waarheid

Moenie dinge vir jou ouers wegsteek nie. Vertel hulle die waarheid, al is jy hoe bang. Dis nie gesond om dinge op te krop nie – en buitendien kan jy dit nie vir altyd wegsteek nie. Hoe langer jy dit vir jouself hou, hoe slegter is dit vir jou gesondheid én jou kop!

moenie weghardloop nie

Dit help nie jy probeer weghardloop van jou probleem nie – dit haal ’n mens altyd weer in. Jou ouers gaan die een of ander tyd wél uitvind. Verte hulle voordat hulle dit by iemand anders hoor. As jy hulle nie vertel nie, gaan hulle dalk al hul vertroue in jou verloor. Dit kan die probleem net vererger en dan neem dit baie langer om die verhouding weer te herstel.

oefen, oefen, oefen

As jy senuweeagtig is, moet jy voor die tyd oefen hoe jy jou ouers gaan vertel. Skryf eers neer wat jy wil sê en probeer dink hoe jou ouers gaan reageer. Dit kan jou help beplan aan ’n manier om jou geheim te deel en om te reageer op hulle reaksie! Oefen dan jou plan! ’n Mens word maklik emosioneel in sulke moeilike situasies – dit help dus as jy voorberei het.

aanvaar en laat vaar

Jy gaan nie jou ouers se reaksie kan verander nie. Hulle gaan dalk aanvanklik negatief wees, omdat hulle ook net mense is wat soms emosioneel raak en oorreageer. Jy het nie beheer daaroor nie. Jy het wel beheer oor hoe jy hul reaksie gaan hanteer. Aanvaar dat hulle kwaad en teleurgesteld gaan wees, maar vertel hulle dat jy nie langer met ’n skuldige gewete kon saamleef nie. As hulle die aanvanklike skok verwerk het, gaan hulle onthou dat jy nog hulle dogter is en dat hulle lief is vir jou. Geen probleem is te erg of te groot vir ouers nie, omdat hulle jou liewer het as enige iets anders.

hoe gouer, hoe beter

Hoe gouer jy met die hele sak patats uitkom, hoe beter sal dit vir almal wees. Dit maak nie saak of dit ’n klein of ’n groot geheim is nie – jy kan dit nie opkrop nie. As jy té lank wag, kan dit jul verhouding baie skade aandoen.