Negeuur daardie aand klop Conrad aan die deur. Toe Karis oopmaak, sien sy dadelik hy is bekommerd.

“Het een van julle dalk vandag vir Lara gesien?”

“Nee, definitief nie ek nie. As ek mooi dink, ook nie eers vandag by die skool nie,” sê Karis. “Ek vra net gou vir Mia.” Sy het egter ook nie vir Lara gesien nie.

“Is sy nie by haar twee vriendinne nie?” vra Mia, wat agter Karis aan na die sitkamer gekom het.

“Nee, my ma het gebel en hulle weet niks van haar nie. Of so sê hulle in elk geval. Ons kry net nie daardie stupid boyfriend van haar in die hande nie. Hy antwoord nie sy selfoon nie en sy natuurlik ook nie hare nie,” verduidelik Conrad.

“Kan julle nie die polisie vra om te help soek nie?” wil Karis weet.

“Iemand moet glo vier-en-twintig uur weg wees voordat hulle ’n saak oopmaak, maar hulle kyk na elke saak se meriete, het die polisie vir my pa gesê,” antwoord Conrad. “Hulle is soms skepties om na tieners te soek, omdat hulle partykeer net rondkuier en vir niemand sê nie. ’n Mens kan dit verstaan. Hulle kry met allerhande soorte mense te doen, maar dis nogtans nie lekker om so lank te wag as dit een van jou mense is wat weg is nie. En ons weet sy is met ’n klomp rubbish deurmekaar.” Conrad haal sy skouers moedeloos op.

“Ek en Karl gaan maar in al die pubs en kuiergate soek.”

“Ons kom saam. Ons kan darem in die meisiebadkamers en so kyk, oral waar julle nie kan ingaan nie,” sê Karis.

“Dit sal great wees,” sê Conrad dankbaar.

“Ek sê net gou vir my pa-hulle,” bied Mia aan.

Hulle ry van plek tot plek en gaan na elke kroeg, restaurant of kuierplek waarvan hulle weet. Karl het ’n foto van Lara en sy ma op sy selfoon. Hy wys dit vir al die kroegeienaars, kroegmanne en kelnerinne. Niemand het haar gesien nie. Hulle ry by elke klein strandjie langs, soek en vra rond, maar sonder enige welslae.

Toe hulle huis toe ry, is almal stil. “Dalk is sy nou by die huis,” sê Mia hoopvol. Conrad bel sy ma, maar daardie hoop word ook verydel. Lara het nie opgedaag of iets laat weet nie, en sy ma klink in ’n toestand, sê Conrad.

Dit is lank na middernag toe hulle tuiskom. “Nou moet ons maar wag tot die polisie die saak wil aanvaar,” sê Conrad se pa moedeloos. “Ek en Mamma het al die kinders in haar klas gebel en gevra of sy dalk ’n aanduiding gegee het waarheen sy sou gaan, maar niemand weet iets nie, ook nie van die Sam-boyfriend nie.”

“Dit help ook nie ons draai hier rond nie,” sê Karis. “Roep ons as ons kan help.”

Toe Karis en Mia by hulle voordeur inkom, roep haar ma uit die kamer dat hulle eers moet kom verslag doen. Hulle is net so geskok om te hoor dat Lara steeds weg is.

Karis lig hulle in oor Lara se vriende, die verandering in haar geaardheid, die geld wat wegraak en die snaakse boyfriend. Sy sê sy en Conrad vermoed lankal dwelmmisbruik, maar met Juffrou Gerda se houding kon hulle niks doen nie.

“Maar hoekom het haar pa-hulle nie iets daaraan gedoen nie? Hulle het mos gesien daar is gevaar,” vra hulle pa ergerlik. “Lyk my die hele spul is maar lamlendig!” voeg hy by.

Karis skud net haar kop. “Ek verstaan ook nie, Pa. Hulle is darem mos nie blind nie!”

Voor ontbyt die volgende oggend bel Karis vir Conrad. “Het julle iets van Lara gehoor?”

“Niks, my ma-hulle is nou polisie toe. Die een of ander tyd moet hulle begin soek,” vertel Conrad.