Maak die beste gebruik van elke  geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd.
Efesiërs 5:16

Soms voel jy dat jy darem regtig geen kanse in die lewe kry nie. (Andres as al jou pelle …) Dan raak jy gespanne. Dalk gryp jy sommer uit pure frustrasie die eerste die beste geleentheid wat in jou lewe opduik. Of jy trek jou terug en verwyt ander mense of jou omstandighede vir jou situasie.

Die kans is dan goed dat jy jouself gaan bejammer soos die student wat in die spieël gekyk en vir homself gesê het: “Nobody loves me, everybody hates me, I’m gonna eat some worms.”

Onthou, jy het die vermoë gekry om uit te reik na ander, om nuwe drome te droom en ideale te stel. Die lewe is vol kanse. Die geheim is om nie teen een enkele kans vas te kyk nie of te dink daar gaan nooit weer geleenthede oor jou pad kom nie.

Besluit wat jy graag sal wil doen en wees. Dit sal rigting aan jou lewe gee sodat jy kan weet vir watter kanse jy jou oë moet oophou. Besluit ook wat jou waardes is en waarvoor jy staan. Dan sal jy die regte vriende maak wat jou opbou en help om goeie geleenthede raak te sien en daarvoor te gáán.