By die huis lê Mila ’n lang ruk in ’n skuimbad. Die badkamer se venster strek tot op die bad se rand en sy het ’n wonderlike uitsig oor die see. Sy kan ure hier vir die see lê en kyk en drome droom. Sy dink graag oor haar lewe. Sy het alles wat sy van die lewe kan begeer, dink sy. Hoekom voel dit tog soms of dit nie genoeg is nie? Dit voel partykeer vir Mila of sy die lekkerste ete op haar lewensbord het, maar steeds honger bly. Daar kort iets om ’n holte te vul, maar sy verstaan dit nie.

Sy hoor haar ma met iemand praat en besef na ’n paar oomblikke dit moet haar pa wees. Hy is darem weer by die huis. Sy voel vreemd bly. Al sien hulle mekaar min, weet sy haar pa is lief vir haar. Hy wys dit net op ’n vreemde manier. Hy oorlaai haar met geld en geskenke, maar sy onthou min persoonlike gesprekke met hom.

As Mila aantrek, is dit soos ’n byeenkoms van die wêreld se voorste ontwerpers. Sy is mal oor Dolce & Gabbana se klere en bykomstighede, maar dra ook graag ander ontwerpers se uitrustings.

Sy trek vanaand verslankende jeans van D&G aan. Dit loop nousluitend na onder, en daarby dra sy ’n Armani jerseystof T-hemp. Die kleur-aanduiding op die kaartjie is latté, maar vir Mila is dit ’n kleur net anderkant wit. Sy en haar ma het dit in September in Milaan gekoop en sy was dadelik versot daarop. Sy dra dit saam met D&G hoëhaksandale en ’n monogram denimhandsak van Louis Vuitton. Sy besit twee van die uiters gesogte Louis Vuitton-handsakke.

“Hallo, Mila. Jy lyk mooi,” sê haar pa toe sy by die sitkamer inkom. Haar ma sit op die bank en lyk soos altyd soos ’n prentjie uit ’n glanstydskrif. Haar naels is perfek, elke haartjie op sy plek en sy is geklee in ’n spierwit broekpak wat haar koel en ontspanne laat lyk. Haar pa oorhandig aan haar ma haar gunstelingdrankie en vra: “’n Koeldrank vir jou, Mila?”

“Appelsap, dankie, Pappa,” sê Mila en gaan sit langs haar pa.

“Ek het ’n verrassing vir julle twee,” sê haar pa toe almal met drankies sit. “Ons gaan vir die Kersnaweek Londen toe. Ek moet die 23ste Desember daar wees vir ’n vergadering en besluit toe: Kom ons hou hierdie jaar Kersfees in Londen!” Harold Hartman kondig dit met afwagting aan en kyk van sy vrou na sy dogter.

“Dit klink heerlik,” sê haar ma opgewonde.

“Wanneer gaan ons?” vra Mila gretig. Sy is mal oor vreemde lande en wêreldstede.

“Die 22ste Desember vir ses dae en voor jy vra, jy kan Montaldo ook saamnooi,” sê haar pa en lag ontspanne.

“Wow, dit klink lekker,” sê Mila bly. “Ek sal hom sommer vanaand vra. Ons gaan Blue Rock Café toe. Ek dink hy sal mal wees oor die Londen-idee.”

“O ja, en ek het sommer vir ons kaartjies vir Joseph se musiekblyspel op Oukersaand in die West End bespreek,” sê haar pa terwyl hy vir hom nog ’n drankie ingooi.

“Dit klink great! Wat doen julle vanaand?” vra Mila dan.

“Ons eet saam met die Van Houtens by Emily’s,” antwoord haar ma.

“Dit klink ook lekker,” is Mila se kommentaar.