Toe Montaldo kom, groet hy haar pa en ma en praat ’n paar woorde, maar hulle is gou op pad uit. Voor hulle wegry, soen hy haar besitlik.

“Jy lyk nice, soos altyd,” sê hy galant.

“Dankie. Ek het ’n verrassing vir jou!” sê sy opgewonde.

“En dit is …?” vra hy en lyk baie nuuskierig.

“Ons gaan Kersfees Londen toe en jy is saamgenooi!” sê sy gulhartig.

“Dis generous van Pappie!” sê hy en vra: “Wanneer gaan ons?”

“Die 22ste, vir ses dae! Ons gaan Oukersaand Joseph se musical kyk. My pa het klaar kaartjies,” sê Mila, alles in een asem.

“Oukersaand in ’n teater? Dis ’n eerste vir my, maar dit klink fenomenali!” sê Montaldo in Italiaans.

Dit voel vir Mila ook weird om op Oukersaand na ’n show te gaan kyk, maar Kersdag sal seker darem Kersdag wees, dink sy.

“Dis so ’n lekker aand, ek is eintlik meer lus vir rondry as vir die ander,” sê Mila verlangend.

“Ek is altyd meer lus vir rondry! Ek het die kar nou al drie maande, maar dit gee my steeds ’n huge rush om hom op die highway oop te trap!” Hulle gaan ry dus eers ’n ent en as hulle by die Blue Rock Café kom, is al hulle vriende reeds daar. Almal kla omdat hulle laat is, maar hulle lag net daaroor.

“Belangrike mense is altyd laaste,” spot Montaldo op sy arrogante manier.

Mila sien hoe Carmen en Andrea vir mekaar kyk en hulle oë rol. Ag wat, dink sy, Montaldo is vir my oulik en dit is al wat saak maak.

Die ouens bestel bier, want hulle is almal reeds agttien. Die meisies drink appelsap en gaskoeldrank. Die geselskap gaan oor musiek, klere en flieks. Mila is skoon verlief op Andrea se skoene, dit is Valentinos wat glinster. Regte wow-skoene, dink sy. Later bestel hulle seekos en kuier tot laat om die tafel. Michael is duidelik net so geïnteresseer in Carmen as sy in hom en Mila is seker dié twee gaan by mekaar uitkom. Veral toe sy later hoor hoe Michael vir Carmen vra om die volgende dag saam met hom strand toe te gaan, weet sy daar is iets aan die gebeur.

Voor hulle huis toe gaan, gaan stap Mila en Montaldo eers ’n ent langs die see. Hulle praat oor Londen en die vooruitsig van ’n paar dae saam daar. Hy hou haar styf vas en soen haar voordat hulle huis toe ry. Dit voel vir Mila of sy niks méér in die lewe wil hê nie. Montaldo behoort aan haar, waarvoor kan sy dan nog wens?