“’n Mens hoef nie uitspattig met Kerstyd te wees nie, Mila. Die belangrikste is om die heiligheid van die Jesuskind te erken. Die vrede wat die Here jou dan gee, is beter as die beste paartie. Dis eintlik soos ’n paartie in jou binneste! Die Here gee geluk in die eenvoudige dinge, dit is nie geld en goed wat tel nie! Onthou wat ek nou vir jou sê, Mila. Onthou dit as jy groot is en Cynthia dalk al lank begrawe is onder die lang bome!” sê Cynthia met groot erns.

“Ag, Cynthia, jy gaan nog by ons werk tot my kinders so groot is soos ek nou is, jy sal sien!” sê Mila.

“Ek hoop ook so, Baby, maar die lewe kan partykeer snaakse squares met ’n mens gooi!” antwoord Cynthia dan.

Na sy geëet het, gaan Mila stort en toe sy klaar aangetrek het, begin sy die klere uit haar kas pak. Sy besluit ook sommer dadelik om alles wat sy nog nie hierdie seisoen gedra het nie, eenkant te sit vir Bonnie. Sara lyk baie in haar skik as sy sien hoe Bonnie se hoop klere groei.

“Bonnie gaan haarself nie ken nie! Niemand wat ons ken, het sulke smart klere nie,” sê Sara ingenome.

Op haar bed pak Mila dan die klere uit wat sy wil saamneem Londen toe. Haar dubbelborsjas kom eerste uit die kas. Serpe en handskoene is ’n moet, dink sy. Sy haal ’n hele paar van haar ontwerpersjeans en -truie uit. Ook haar donkergrys Prada-wolbroek en ’n spierwit Prada-rolnektrui.

Miskien moet sy ook ’n romp of twee en seker ’n rok vir die teater inpak, dink Mila. Sy haal haar swart strepiesromp uit die kas, dit is altyd ’n wenner. Daarby dra sy graag ’n kort, swart rekstofbaadjie. So, dit moet beslis ook saam. Sy haal ’n ligpienk rok waarin sy baie mooi lyk uit. Sy sal dit teater toe aantrek. Sy kies nog ’n paar baadjies en bostukke net om seker te wees sy het genoeg klere. Dan haal sy ’n klompie van haar kettings en oorbelle uit wat ook moet saam. Ook ’n klompie pare skoene om elke uitrusting te voltooi, word ingepak.

“Wat van onderklere en kouse?” vra Sara nou.

“Oeps, Sara, sien jy hoekom jy my moet help? Kyk of alles mooi skoon is en sal jy dit dan vir my inpak? Ek sal later my grimering en toiletgoedjies regkry.”

Vrydag gaan dit dol. Mila se ma roep aanmekaar: “Cynthia! Sara!” dan weer “Cynthia!” Almal is op ’n drafstap. Mevrou Leoni sê dit moet gewas word en dat moet gestryk word. Mevrou Leoni kry nie haar cashmere sybloes nie! Mevrou Leoni se vitamienpille moet nog by die apteek gekry word. Waar is Lucky, hy moet dadelik apteek toe! “Lucky! Lucky!” skree Cynthia asof daar ’n brand is.

Mila hou die hele gedoente op ’n afstand dop. Haar ma is altyd laat. Dan raak alles ’n wêreldkrisis en dis almal se skuld behalwe haar eie. Haar ma is ’n bietjie van ’n diva, dink Mila. Haar eie goed is klaar ingepak. Sy het die oggend gou haar grimering en toiletware ingesit en wil nog net gou gaan bad en haar klere vir die vlug aantrek. Lucky moet drieuur vir Montaldo met sy bagasie by sy huis gaan oplaai. Vyfuur gaan hulle almal lughawe toe. Mila hoor haar pa in die kombuis en stap soontoe.