Hulle kry drie kamers op die derde vloer. Elke kamer het ’n pragtige uitsig oor die Teemsrivier.

“Ek het nog nooit so ’n mooi uitsig uit ’n hotel gesien nie!” roep Mila opgewonde.

Hulle het tydens vorige besoeke aan Londen in ander hotelle gebly. Hierdie een, deur vriende van haar pa-hulle aanbeveel, is regtig fantasties, dink Mila.

“Dankie tog vir ’n bed. Ek wil net eers ’n rukkie slaap,” sê Mila se ma en begin solank van haar jas ontslae raak.

“Ja, en ek moet regmaak vir die vergadering wat eintlik daarvoor gesorg het dat ons hier is! Ek gaan eers stort en aantrek. Dalk voel ek dan wakkerder en skerper! Wat gaan julle twee kinders nou doen?” sê-vra Mila se pa, wat skynbaar darem nou weer lus voel om te glimlag.

“Ek dink ons gaan ’n bietjie stap en die wêreld verken,” antwoord Montaldo en kyk vraend na Mila.

“Ek wil ook net eers gaan stort en ander klere aantrek,” kondig Mila aan en hulle stap saam na hulle onderskeie kamers laer af in die gang.

’n Halfuur later klop Mila versigtig aan Montaldo se kamerdeur.

“Ek is reg vir die uitstappie,” sê Mila deur die toe deur en vou die serp stywer om haar nek.

Toe hulle buite kom, skrik hulle eintlik vir die felheid van die buitetemperatuur. Hulle was albei al ’n paar keer in Londen, maar geniet die stad elke keer as hulle hier kom.

“Kom ons stap tot by Piccadilly Circus, al is dit ’n hele ent. Dit is mos die hart van Londen en as jy eers daar was, dan weet jy mos jy is nou in die vreemde,” sê Montaldo.

“Ja, my pa sê altyd Regent Street is die mooiste straat in die wêreld!” voeg Mila by en vervolg: “Ek wil graag tussen die boeke in die boekwinkels in daardie omgewing gaan snuffel.” Mila-hulle kry die boekwinkel waaraan sy gedink het nogal maklik en kyk deur die wonderlike verskeidenheid boeke wat te koop aangebied word. Sy koop vir haar ’n boek waarna sy lankal soek. Hulle glip in en uit by die winkeltjies en ervaar wat Londen die toeris te koop aanbied – van T-hemde met die Engelse vlag as versiering tot by koffiebekers met die koningin se gesig op. Letterlik enigiets om huis toe te neem en mee te wys: “Kyk, ek was ook in Londen!”

Later wil hulle ’n bietjie uit die koue kom en koop by ’n koffiewinkel koffie en ’n bagel om die ergste honger te verdryf. Hulle maak ook ’n draai by Trafalgarplein, waar daar altyd baie lewe is. Ondanks die koue is daar ’n klomp mense wat daar rondstaan en die tyd verwyl. Op die plein staan ’n massiewe Kersboom.

“Ek het gelees dat Oslo elke Kersfees sedert 1947 ’n Kersboom aan die stad gee as erkenning vir die hulp wat hulle gedurende die oorlog van die Londenaars gekry het. Is dit nie ’n great ding om te doen nie?” sê-vra Montaldo terwyl hy die boom bekyk.

“Dis so cool! Dit moet omtrent ’n mission wees om so ’n groot boom hier te kry sonder om dit te beskadig. Ons moet tog een aand as die liggies aan is ook hiernatoe kom. Dit moet nice wees om dit te sien!” antwoord Mila verwonderd.