Toe hulle laatmiddag by die hotel kom, is dit al donker. In Londen se winter kom die son eers laat op en is dit teen vyfuur die middag al heeltemal donker. Mila se pa kom amper terselfdertyd daar aan.

“Hoe was die vergadering toe?” vra Mila belangstellend.

“Baie produktief, dankie. Terloops, sir Henry Parker, een van die mense met wie ek die vergadering gehad het, het ons almal vir ete genooi. Ook vir julle twee,” sê haar pa.

“Ag, nee, Pappa is nie ernstig nie. Wat moet ons nou as geselskap vir Pa se sakekennisse doen!” sê Mila vies.

“Hy bring sy vrou en seun ook saam. Die outjie is glo negentien. Julle kan net nie uitdraai nie!” sê haar pa en kyk haar vermanend aan.

“Ek het gedink ek en Montaldo kan na die Imax-teater toe gaan. Nou moet ons met die een of ander Engelse nerd sit en kuier!” kla Mila.

Sy kry haar ma waar sy op die bank in hulle hotelkamer met ’n tydskrif sit-lê.

“Is Mamma uitgerus?” vra Mila vriendelik.

“Ja, seker darem. Ek hoor ons gaan saam met die Engelse sir eet. Ek wonder wat ek moet aantrek,” sê haar ma.

“Ag, Mamma het so baie klere hier, ek is seker daar sal iets wees om te dra,” antwoord Mila.

“Dit is seker so, maar ek wil op my beste lyk. Hulle is baie belangrike mense vir Pappa,” sê haar ma.

Mila besluit om haar donkergrys Prada-broek en wit Prada-rolnektrui aan te trek. Haar blonde hare maak sy met ’n goue knip vas. Sy doen haar grimering sorgvuldig, kry haar jas en oranje kalfsleer Dolce & Gabbana-handsak – een waarop sy baie verlief is – en gaan klop dan by Montaldo. Hy lyk vreeslik aantreklik in ’n blou strepieshemp en ’n donkerblou kolletjiesdas by ’n donkerblou Armani-broek.

“Jy lyk beautiful. Is dit om die Londense girls te beïndruk?” vra Mila speels.

“Nee, om die Kaapse girl te beïndruk!” sê Montaldo en soen haar.

“Oukei, ek is beïndruk. Wat nou!” sê Mila en lag op na hom.

Dan kom Mila se pa hulle roep. Montaldo kry sy jas en hulle gaan met die hyser af tot op die grondverdieping. ’n Bestuurder met ’n Bentley laai hulle voor die hotel se ingang op en neem hulle na MoMos. Dit is ’n Marokkaanse restaurant naby Piccadilly Circus, waar hulle die Parkers om agtuur sal kry.

Die restaurant is baie bedrywig. Daar is ’n orkes en buikdansers. As die Parkers kom, is Montaldo en Mila verras om die oulike seun, Wesley, te ontmoet. Hy is allesbehalwe ’n nerd! Hulle gesels lekker en hy dink dit is skreeusnaaks dat Mila so gril vir die luislang waarmee die dansers dans. Wesley vra hulle later of hulle al by die Pangaea Mayfair privaat klub was. Hierop kon albei ’n besliste nee antwoord.

“Ek sou so graag wou gaan, want ek het al baie daarvan gehoor!” sê Mila verlangend.

“Kom ek maak gou ’n oproep en kyk wat kan ek doen om julle daar in te kry. Ons is vriende met die eienaars!” antwoord hy.

Gou is alles gereël. Terwyl die ouer mense koffie bestel, glip die drie jongeres weg. Danksy Wesley het Mila en Montaldo geen probleme om toegang tot die privaat klub te kry nie en is gou deel van die klomp jongmense daarbinne.