“Ek is nogal jammer ons het hom gemis,” sê Mila toe hulle later die aand vir Wesley groet. Hy lag en sê: “Ek dink hy is hierdie tyd van die jaar seker saam met die res van die koningsgesin op vakansie in Skotland.”

“Julle meisies is tog so behep met die prins-idee. Wat is ’n prins nou eintlik?” sê-vra Montaldo beterweterig.

“Ek weet hy is net nog ’n ou, maar dit sou nice gewees het om te kan sê ek het hom gesien of ontmoet! Dink net wat Carmen en Andrea dáárvan sou gesê het,” sê Mila. Dan draai sy na hulle gasheer. “Dankie, Wesley, dit was ’n stunning aand. As jy eendag in die Kaap kom, sal ons jou ’n bietjie rondneem en die nice plekke wys,” sê Mila dankbaar en Montaldo beaam alles.

Wesley het vir hulle ’n taxi bestel en hulle is gou by die hotel.

“Vanaand slaap ek ’n gat in die bed, ek is só moeg,” sug Mila toe hulle met die hyser opry na hulle kamers.

“Jy hoef my ook nie te dwing nie, ek gaan nou dadelik in die bed spring,” sê Montaldo en soen Mila nag voor haar kamerdeur.

Na ’n egte Engelse ontbyt gaan Mila, Montaldo en haar ma die oggend Kersgeskenke koop. Haar pa loop sy eie draaie. Harrods is die voor die hand liggende plek om by te begin. Wat hulle daar nie kry nie, kry hulle in Old Bond Street tussen die uitsoekklerewinkels. Na ’n rukkie gaan elkeen op sy of haar eie om vir die ander ’n geskenk te koop en dit ’n verrassing te hou. Hulle kry mekaar later weer in Harrods en drink daar tee met skons, aarbeikonfyt en regte, geklopte room – so eg Engels soos kan kom! Hulle noem dit cream tea wat, anders as die naam aandui, nie tee met room is nie, maar wel tee en skons met geklopte room. Sy hou nogal daarvan om in die buiteland soos die plaaslike mense te maak! Dit gee jou die hele gevoel van ’n vreemde kultuur, dink Mila.

Leonie sien natuurlik ’n jas wat sy net moet hê en koop dit onmiddellik. Die hele pad terug na die hotel is sy besig om haar kopie se waarde te besing.

Hulle ontmoet Mila se pa eenuur by die hotel vir ’n ligte middagete en daarna het Leoni ’n afspraak by die hotel se masseuse. Mila en Montaldo is dadelik weg na die Londen Imax-teater toe. Hulle sien Dinosaurs: Giants of Patagonia by die Imax en geniet dit baie. Toe hulle uitkom, reën dit saggies en die lae wolke lê donker saamgepak oor die stad. Gelukkig het hulle ’n sambreel, maar hulle glip sommer gou by ’n ou Engelse pub in om teen die reën te skuil. Montaldo bestel vir homself bier en vir Mila ’n warm sjokoladedrankie.

“Ek sal sommer hier in Londen wou bly, ek hou van hierdie nat, snoesige weer,” sê Mila as sy ’n slukkie van die warm sjokoladedrankie geneem het.

“Nee wat, ek hou van die son op my lyf langs die see. Goeie African sun,” sê Montaldo.

“Ek hou ook van son, maar die nat weer is ook lekker,” antwoord Mila en wikkel haar neus.

“Jy is oulik as jy jou neus so wikkel,” sê Montaldo en vryf haar arm.

“Ons moet seker terugkom by die hotel. Ek bel ’n taxi, dan hoef ons nie ver in die reën te stap nie,” stel Montaldo voor.