By die hotel bad hulle en trek ander klere aan vir die musiekblyspel, Joseph. Hulle moet dadelik na ete na die West End-teater vertrek en daarom trek almal al voor ete aan. Mila dra haar ligpienk rek-satynrok, wat sy spesiaal vir vanaand saamgebring het, en ’n gerolde silwerkettinkie om haar nek. Haar hare is met ’n silwer knip vasgevang. Montaldo het ’n baie mooi donkergrys broek en baadjie van Armani aan met ’n ligte pienk hemp en donkerder pienk das.

“Jy lyk sexy,” sê Mila saggies en soen hom op sy mond.

“Jy moet versigtig wees met jou soenery, jou lipstiffie is nog baie! Wag tot dit eers ’n bietjie af is, anders lyk ek netnou soos ’n clown,” kla hy, maar lyk tog heel tevrede met haar vertroeteling.

Mila se ma kom uit hulle hotelkamer met ’n rooi rekstofrok aan. Met haar volmaakte lyf lyk sy soos ’n model. Oor haar arm het sy ’n swart jas versier met voshaar.

“Tannie lyk wonderlik!” sê Montaldo en Mila kan sien hy bedoel elke woord. Haar ma hou daarvan om die oog te vang en as hulle by die eetkamer van die hotel instap, draai die koppe om vir die mooi vrou met die rooi rok te kyk. Nie dat hulle nie vir Mila raaksien nie, want sy lyk net so spesiaal.

Haar pa sluit hom by hulle aan tafel aan en kyk goedkeurend na almal. “Ek sien ek is in goeie geselskap! Julle lyk almal baie goed!” komplimenteer hy dadelik.

“Pappa lyk net so mooi in die donker pak. Jonk en aantreklik!” sê Mila en glimlag.

Na ete vertrek hulle dadelik na die Adelphi-teater en hulle is ook net betyds. Die show is stunning, dink Mila kort-kort. Die musiek is so mooi, sy wil sommer huil. Dit is vir haar of die Bybelverhaal van Josef en sy broers voor haar oë ’n werklikheid word.

Gedurende pouse sê Leoni dat sy al in Suid-Afrika ook ’n weergawe van die musiekblyspel gesien het, maar hierdie is onverbeterlik. Mila se pa het op pad na die teater vertel hoe hulle die hoofspeler, Lee Mead, gekies het. Daar is glo landswyd na iemand gesoek om die rol te vertolk en die publiek kon toe vir die kandidate stem net soos hulle met Idols maak. Sy kan nou sien hoekom hy gekies is, hy is ’n fantastiese toneelspeler, dink Mila.

Dit is na tienuur toe hulle weer by die hotel kom. Montaldo en Mila is nog glad nie lus vir slaap nie. “Kom kyk TV in my kamer, dan bestel ons iets om te eet. Ek is lus vir iets lekkers,” stel Mila voor.

Hulle bestel versnaperings by kamerdiens. Die fliek het hulle al gesien, maar dit is een van albei se gunstelinge; dus kyk hulle graag weer daarna.

“Dis al Kersdag! Geseënde Kersfees!” roep Mila as die fliek twintig minute oor twaalf klaarmaak. Sy sit haar arms om Montaldo se nek.

“Hoop dit is die beste Kersfees ooit, Mila,” sê hy en druk haar styf vas.

“Dit sal wees, jy is mos saam met my hier!” antwoord sy by sy oor.