Kersoggend na ontbyt gaan Mila en Montaldo met die geskenke wat hulle gekoop het, na Mila se ouers se hotelkamer.

“Dit voel snaaks sonder ’n Kersboom,” sê Mila ingedagte.

“Ag, dis net ’n gewoonte. Kerstyd gaan oor die geskenke en die goeie ete!” sê haar ma.

Dit voel of daar iets kort. Kersfees moet mos feestelik voel, nie net vir mekaar geskenke gee in ’n hotelkamer nie, dink Mila, maar sy gaan nie nou met haar ma in ’n gesprek daaroor verval nie.

“Toe, toe, toe, kom ons maak nou ons geskenke oop,” sê Mila se pa in ’n ligte luim.

Mila het vir haar pa ’n Armani-serp gekoop waarvan sy geweet het hy baie sal hou. Hy sit dit ook sommer dadelik om sy nek en kyk tevrede in die spieël. Montaldo het vir hom egte leerhandskoene gekies en, omdat hy ook ’n vlieënier is, ’n boek met ’n versameling lugfoto’s wat ’n fotograaf wêreldwyd geneem het. Mila se pa is in vervoering oor die boek.

In die pakkie wat haar ma vir haar pa gee, is ’n donkerblou Armani-kamerjas van sy. Haar ma kry die mooiste diamanthalssnoer by haar pa. Toe haar ma dit oopmaak, spot haar pa: “Jy moet dit mooi oppas, Leoni. Jy sal dit kan verkoop vir kos in die sewe maer jare!” en almal lag daaroor. Mila kan sien dit moes ’n klomp geld gekos het.

Mila het vir haar ma Worth se Je Reviens-parfuum gekoop, sy is mal oor die geur. By Montaldo kry Leoni ’n Andrew Lloyd Webberversameling CD’s. Na die vorige aand se wonderlike opvoering is dit ’n baie gepaste geskenk. Mila se geskenk van haar ouers is ’n hangertjie met vyf diamante en drie robyne, asook bypassende diamantoorkrabbetjies.

“Dalk dra jy dit nog eendag na jou matriekafskeid,” sê haar pa. “Dit was vir my so mooi, ek moes dit net vir jou koop.” Harold kyk na Mila met ’n glimlag wat tot in sy oë reik en voeg by: “Amper net so mooi soos jy!” Mila voel skielik lus om te huil. Haar pa sê nooit vir haar sulke mooi goed nie. Partykeer wonder sy of hy eers weet sy bestaan. Sy sit haar arms om sy nek en druk hom teen haar vas. Op daardie oomblik kry die hangertjie vir haar dubbele waarde!

Vir Montaldo is daar van haar ouers ’n naskeermiddel van Hugo Boss. Mila het na baie kopkrap vir Montaldo ’n gestempelde leerbeursie van Dolce & Gabbana, haar gunstelingontwerper, gekoop. As al die geskenke oopgemaak is, gee Montaldo nog een laaste geskenk vir Mila. Dit is ’n goue boksie met ’n pragtige sterlingsilwer-kabelarmband met hier en daar ’n goue kruisie as versiering. Dit is deur David Yurman ontwerp. Mila dink dit is pragtig. Sy gee ’n gilletjie van plesier en soen Montaldo met oorgawe.

“Wat doen ons alles vandag?” vra Mila vir haar pa toe al die geskenke oopgemaak is.

“Miskien moet ons die oggend rustig hier rond verwyl. Twaalfuur is ons Kersete hier by die hotel en daar is nie regtig tyd om ver te gaan en betyds terug te kom nie. Die weer is ook maar sleg vandag. Dalk lyk dit namiddag beter,” stel Leoni voor.

Mila-hulle kry DVD’s uit die hotel se versameling en kyk ’n fliek tot twaalfuur.

Hulle Kerskos is prentjiemooi en smaaklik. Hulle almal eet heeltemal te veel. “Nou gaan ek eers ’n bietjie slaap,” sê Montaldo toe hulle klaar geëet het.

Mila sê sommer dadelik: “Dit klink na ’n cool idee, ek gaan ook so maak!” en daarmee verdwyn die twee in hulle kamers in.