Toe Mila teen vieruur wakker word en na buite kyk, sien sy dit sneeu. Sy gaan maak Montaldo wakker. “Kom kyk! Kom kyk! Dit sneeu!” roep sy opgewonde.

Hy staan baie deur die slaap op. “Ek wonder hoe lank dit gaan aanhou?”

Mila is verskriklik opgewonde. Suid-Afrikaners mis darem baie! Dit voel of sy ’n groot geskenk gekry het, groter as die duur geskenke wat sy vanoggend uit hulle glinsterende pakkies gehaal het. Skielik dink sy aan Cynthia. Wat het sy nou weer gesê? “Dit gaan nie oor geld en blink goed nie, dis eenvoudige goed wat belangrik is.” Soos sneeu op Kersdag, dink Mila.

Op die ou end bly hulle die hele dag in die hotel. Hulle sit voor die groot, uitgeboude hotelvenster, elkeen met ’n beker warm sjokolade, en kyk hoe dit sneeu. Na ete die aand kry hulle ’n bordspeletjie wat by die hotel beskikbaar is en Mila, Montaldo, haar ma en pa speel almal saam. Dit is seker die eerste keer vandat Mila kan onthou dat haar ouers enige speletjie saam met haar speel. So word dit ’n vreemde wit Kersfees wat sy nooit sal vergeet nie!

Die middag na Kersfees het Mila se pa vir hulle plek bespreek om by die Ritz Hotel ’n tradisionele middagtee te gaan drink. Die eetgoed, wat komkommerbroodjies en skons insluit, is alles tradisioneel. Spesiale koffies en tees word daarmee saam bedien. Die Ritz is heeltemal anders as die Four Seasons. Die hotel is meer as ’n honderd jaar oud en die dekor is in die ou Engelse styl. Mooi, maar Mila verkies die meer moderne styl van die Four Seasons. Haar pa is weer mal oor die Ritz. Dié aand gaan kyk Mila en Montaldo ’n fliek en ry sommer met die moltrein na Leicester Plein, waar die meeste teaters is. Dit is nog baie, baie koud en hier en daar lê daar nog ’n bietjie van die vorige dag se sneeu onder die bome. Na die fliek ry hulle met die trein tot by Piccadilly Circus en gaan kyk na die liggies in die middestad. Hulle gaan kyk ook hoe lyk die Kersboom op Trafalgar Plein as die liggies brand.

Hulle soek ’n restaurant sodat hulle ’n bietjie uit die koue kan wegkom en bestel warm koffie en doughnuts. “Ek is mal oor Londen,” sê Mila vir Montaldo, haar wange rooi van die koue en opwinding.

“Ek hou ook daarvan om hier te wees, maar New York is my plek!” sê Montaldo.