“Daar is ander plekke waarvan ek ook hou, maar hierdie is my gunsteling!” antwoord Mila.

Die volgende twee dae besoek hulle al die gewone toeristebesienswaardig-hede, soos die Londen Museum en Kensington Paleis, waar prinses Diana gebly het. Hulle gaan ook na Madame Tussaud’s, waar al die beroemdes en berugtes as wasbeelde verewig is. Mila neem ’n foto van Montaldo en prinses Diana en hy neem een van haar en oudpresident Nelson Mandela, asook ook een van haar saam met prins Charles. Hulle geniet die oggend en lag baie.

Die laaste dag koop hulle geskenke vir hulle beste vriende om terug huis toe te neem. Mila koop ook vir Lucky, Cynthia, Sara en Simon elkeen ’n geskenk. Die aand eet almal saam by Fifteen, Jamie Oliver, die sogenaamde “naked chef”, se restaurant. Hulle ontmoet hom sowaar ook toe hy ’n draai by die tafels maak! Hieroor is Mila baie opgewonde. Toe sy vir hom noem dat sy graag vir hulle huishoudster in Kaapstad ’n getekende resepteboek sou wou saamneem, sê hy sy kan dit sommer daar in die restaurant koop – hy het ’n paar byderhand – en hy sal dit met graagte teken! Mila is baie in haar skik met Cynthia se geskenk, want Cynthia is ’n Jamie-aanhanger soos min. Nou hoef ons nie meer meat loaf te kry nie. Nou gaan ons net Jamie-kos eet, dankie tog! dink Mila.

Die volgende dag is dit tyd om terug te gaan. Mila vat haar pa om die nek en bedank hom vir die vakansie. Ook Montaldo skud Mila se pa se hand en sê dankie vir die tyd in Londen en dat hulle hom saamgenooi het. Harold sê hy is baie bly almal het die tydjie geniet. Net Leoni sug en sê: “Dit was lekker, maar nou weer die ellendige lang tyd op die vliegtuig.” Haar ma moet darem altyd ’n bietjie kla, dink Mila en skud haar kop.

Toe die vliegtuig opstyg en laag oor die stad draai, sien sy hulle hotel en herken ook verskeie van die ander bekende geboue langs die Teems. Dit was soos ’n droom, dink Mila dan en begin die liedjie uit die Joseph musiekblyspel, “Any dream will do”, saggies sing. Montaldo hoor hoe sy sing en glimlag vir haar. Ook hy besef hierdie droom is verby. Môre is hulle weer by die huis.