“my persent is die heel beste!” sê cynthia en draai met die Jamie Oliver-kookboek in haar arms in die rondte.

“Hoe weet jy wat kry die ander? Dit is dalk baie ouliker as joune!” sê Mila, terwyl sy vir Cynthia se blydskapsdansie lag.

“Nooit, ek kyk altyd vir Jamie op die Food Channel en hy is nogal aansienlik, hoor! Mooi kind! En die mannetjie weet darem van kook. Nee, Mila, my persent is die heel beste! Anyway, nou lat jy so praat, wat kry Sara?” sê-vra sy dan skielik nuuskierig.

“Koffiebekers met die gesigte van koningin Elizabeth en prins Philip asook ’n vatlappie met die Engelse vlag,” antwoord Mila. Die bekers was oorspronklik vir Cynthia bedoel, maar toe koop sy Jamie se boek en gee die bekers ook vir Sara. Sy vertel dit egter nie vir Cynthia nie.

“Ag, nee wat, laat sy maar uit die queen en haar hubby se koppe drink, ek gaan nou kook soos ’n queen, ek en my vriend Jamie,” sê Cynthia vol giggels.

“Ai, Cynthia, jy laat my lag! Gelukkig gaan ons nou nooit weer meat loaf kry nie!” sê Mila en hou Cynthia dop.

“Eet Jamie nie meat loaf nie?” vra sy verbaas en begin verward in haar boek rondblaai. Mila is lam van die lag.

“Cynthia, ek het jou gemis! Jy jazz altyd die vaalste dag op!” sê Mila. “Hoe was jou Kersfees?”

“Dit was baie lekker. Oukersaand het ons heel aand Kersliedere gesing en my punch gedrink.” Sy giggel lekker hieroor. “Kersdag was ons kerk toe. Ons het goeie kos geëet, ook melktert, koeksisters en soetkoek. Ons het by al die familie gekuier en baie gelag. Nee, Mila, my Kersfees was goed,” antwoord Cynthia tevrede.

Mila dink dadelik hoe baie haar Kersfees van Cynthia s’n verskil het, maar hare was tog ook lekker. Veral die sneeu was nice, dink sy. Sy onthou ook haar pa se mooi woorde en haar hart word warm. Sy vertel vir Cynthia van die sneeu en hoe sy onthou het dat Cynthia gesê het dis die eenvoudige goed wat die belangrikste is.

“Nee, wat, Mila, miskien moet ek ophou worry oor jou. Jy sal reg uitkom aan die grootmenskant. Jy weet wat nodig is. Leer net om die geld mis te kyk! Maar die goed blink so dat ’n mens heeltyd net daarna wil kyk en bly glo jy het nog meer nodig!” sê Cynthia filosofies.