Oujaarsaand bring baie vrolikheid. Elke jaar skiet hulle honderde rande se vuurwerk af om die koms van die nuwe jaar te vier. Hierdie jaar is dit ook nie anders nie. Mila, Montaldo en ’n klomp van hulle vriende kuier saam op die strand. Almal het nog die een of ander vakansieganger wat familie of vriende is, ook saamgebring. Mila is jammer Andrea is nie daar nie, maar sy kuier by haar ouma in die Vrystaat en kom eers na Nuwejaar terug. Hoe later dit word, hoe groter word die groep jongmense en hoe harder en polsender die musiek. Twaalfuur bereik alles ’n hoogtepunt toe die vonkelwynbottels se proppe klap en die vuurwerk oorverdowend die hemelruim inklief. Duisende sterliggies reën terug op die aarde. Dit is ’n nuwe jaar!

Wat hou die jaar vir ons almal in? wonder Mila by haarself. ’n Rilling trek deur haar lyf, soos die voorkennis van iets donkers in die onbekendheid van die nuwe jaar.

“En as jy lyk of jy ’n spook gesien het?” vra Carmen en kyk haar vreemd aan.

“Ag, dis sommer niks. Voorspoedige nuwe jaar vir jou!” sê Mila en gee haar ’n drukkie.

“Haai, my girl, ek sien jou nêrens. ’n Great jaar vir jou!” sê Montaldo en soen haar met mening.

“Niks meer vonkelwyn vir jou nie, my diertjie,” kondig sy speels aan en maak haar uit sy omhelsing los. Hy glimlag nadenkend vir haar sonder om nog iets te sê en gesels verder met Riaan. Mila sê dit nooit, maar as Montaldo iets met alkohol gedrink het, raak hy te dringend met sy soene. Dit maak haar ’n bietjie ongemaklik. Sy is nog net sestien en verkies om hulle verhouding nie te ver te laat gaan nie. Daar is baie tyd vir volwasse verhoudings.

Die strandpartytjie hou nog ’n uur of wat aan, maar Mila kry koud en voel nie meer deel van die plesier nie. “Kan ons nie maar huis toe gaan nie?” vra sy na ’n rukkie vir Montaldo. Hy gaan soek vir Riaan en Michael om te sê hy en Mila gaan loop en of hulle ander eers later wil kom. Carmen, Montaldo, Michael en Riaan slaap almal vanaand by Mila se huis oor, want dit is gevaarlik om op Oujaarsaand op die pad te wees. Sy is bly hulle het dit so gereël, daar was baie vonkelwyn en sy dink in elk geval nie dit sou goed gewees het dat een van die ouens bestuur nie.

By die huis maak Mila vir almal koffie voor hulle gaan slaap.

“Koffie kan die klomp net goed doen, hulle is darem baie vrolik!” sê Carmen en lag. Hulle sit ’n rukkie in die lapa en gesels, en dan gaan almal bed toe. Carmen slaap by Mila in die kamer, Riaan en Michael in die een gastekamer en Montaldo in die ander gastekamer.

Tienuur die volgende oggend is almal aan die ontbyttafel. Cynthia is vroeg-vroeg op Nuwejaar aan diens. Almal is stil aan tafel, deels omdat hulle nog wou slaap en deels omdat almal redelik hoofpyn het van te veel vonkelwyn.