“Lekker gefuif gisteraand, dit kan ek met ’n stok voel!” sê Cynthia hard sonder enige jammerte vir die hoofpyne. Sy sien hoe almal na hulle koppe gryp in reaksie op haar harde stem. “Hmm, my ou moeder sou sê: Vanoggend het julle almal wingerdgriep. Sorry saak! Sorry saak!” sê sy en klik met haar tong. Sy kry nie reaksie uit die ontbytgangers nie en gaan voort met haar alleengesprek: “Eet julle breakfast, dan voel julle beter. Nuwejaar lyk ma’ altyd die eerste oggend minder goed as die vorige aand. Veral vir dié met die vrolike harte begin die nuwe jaar maar droewig. Laat Cynthia dit nou vir julle jonges vertel!” en sy trippel kombuis toe om nog kos te gaan haal.

“Praat sy altyd so baie?” vra Michael, duidelik min lus vir Cynthia se slimmigheid.

“Ja, ou, jy moet die slae maar vat, want as jy haar cheek, kry jy ’n speech wat jy sal onthou om weer vir jou kleinkinders oor te vertel. Ly maar in stilte!” antwoord Montaldo en kreun sy misnoeë uit.

Dit is darem ook so dat almal heelwat beter voel na Cynthia se ontbyt en twee hoofpynpille wat sy ewe sorgsaam saam met ’n glas water by elkeen se bord kom neersit het.

Mila voel nie te wonderlik nie. Dit het egter niks met die vonkelwyn te make nie. Sy het die vorige aand omtrent twee slukkies gedrink en die res van die aand gaskoeldrank. Daar is iets wat haar vandag pla, maar sy kan nie haar vinger daarop lê nie. Toe die ander later gaan swem, maak sy verskoning dat sy nie lekker voel nie en gaan sit lusteloos deur ’n tydskrif en blaai.

“Hoekom lyk jy so vaal vandag, Mila?” vra Michael op ’n keer.

“Ek is maar net ’n bietjie af vandag, ek sal seker netnou beter voel,” antwoord sy en lag verleë.

“Onthou ons gaan die vyfde na daardie groot musiekfees by die Bellville Velodrome, die een waarvoor Mila vir ons kaartjies gegee het,” herinner Montaldo almal.

“Wow, yes,” sê Michael opgewonde. “Ek hoor dit is omtrent die who’s who in die musiekwêreld wat daar gaan kom sing. Chris Cameleon, The Parlotones, 3 Doors Down, Love Jones, Pink en Daniel Beddingfield,” noem hy hulle een na die ander op.

“Dit klink só cool, ek kan nie meer wag nie,” sê Carmen en gee ’n gilletjie.