Die groot musiekfees is alles wat hulle verwag het en nog meer. Van vieruur af het groot groepe al streep-streep aangekom. Almal wat voor Kersfees by Mila-hulle se huis was, sit in ’n groep bymekaar. Een na die ander optrede is fantasties. Die Parlotones se laaste song bring ’n beroering onder die aanwesiges: “Here comes a man, holds out his hand, he’s looking strangely at me …” Almal is op hulle voete, swaai hulle arms in die lug en wieg saam met die musiek.

“What a show!” sê Michael met sy oë toe asof hy nog in ’n beswyming is.

“Dit was só, só ongelooflik!” koer Andrea en Carmen soos sangmaatjies.

Almal bedank Mila vir die nice idee met die kaartjies en besluit om iets by die Blue Rock Café te gaan drink – onwillig om die aand te laat eindig.

“Dan betaal ek vir almal, net om dankie te sê vir vanaand, dit was nou fenomenali,” sê Montaldo vir Mila, in die taal van sy voorsate, Italiaans.

Hulle kuier tot laat by Blue Rock. Niemand se ouers gee eintlik om hoe laat daar gekuier word nie. Andrea se ma en pa wil hê sy moet voor twaalfuur by die huis wees, maar sy slaap by Carmen oor die aand, dus let niemand op die tyd nie. Hulle kom op die ou end eers tweeuur in die bed en Mila is so moeg dat sy byna onmiddellik aan die slaap raak.