“Henetjie tog, Mila. Jy is sestien en jy sê daai sekswoord sommer so oop en bloot op ’n Dinsdagmôre. My hart is nie gemaak vir julle jonges nie. O, and let me tell you, good girls raak ook eventually pregnant. Dis net of sy die versoeking kan weerstaan tot sy eendag trou. Te veel versoekings is not good for anybody!” sê Cynthia en swaai haar vinger voor Mila se neus in die lug.

Sara kom met Mila se kos ingestap. “Wat bederf jy weer met pannekoekies en so? Sy het nie ekstra bederf nodig nie!” sê Cynthia kamma kwaai.

“Jy is net jaloers oor ek vandag haar favourite gaan wees,” sê Sara vermakerig vir Cynthia.

Mila lag net. Sy weet Sara en Cynthia is amper soos susters vir mekaar en terg mekaar gereeld ligweg. “Ag, julle weet ek is lief vir julle al twee!” sê sy.

“Toe nou vir jou, ladytjie, jy weet net hoe om ons aan jou kant te hou. Dis alles net praatjies! Eet jou kos en staan liewer op! Ons het ander werk ook!” sê Cynthia en stoot Sara voor haar by die kamer uit.

Sowat ’n uur later staan Mila op, bad en begin aantrek. Sy verbeel haar sy hoor die voordeurklokkie lui. ’n Rukkie later hoor sy ’n manstem en direk daarna haar ma wat histeries gil. Sy ruk haar jeans se rits tot bo en trek sommer in die hardloop ’n hempie aan.

Die toneel wat haar in die sitkamer begroet, verwar Mila. In die middel van die sitkamer staan oom Lourie Kuiper, wat saam met haar pa een van sy besighede besit. Haar ma sit op die bank met haar gesig in haar hande. Sy maak jammerlike kermgeluide wat telkemale in ’n wanhopige gil eindig. Cynthia kom met ’n glas water vir haar ma ingehardloop. Mila se brein registreer nie wat besig is om te gebeur nie en sy kyk vraend na oom Lourie se bleek gesig. Oom Lourie kom staan by Mila en sit sy hand simpatiek op haar skouer. “Mila, jou pa se vliegtuig word vermis in die berge êrens naby Ceres. Hulle soek na hom, maar dis moeilik in die reën …”

“Is hy … Is hy dood?” stamel Mila die woorde uit. In haar skok verstaan sy nie wat hy eintlik sê nie en kyk hom smekend aan. Alles binne Mila bid: “Moenie dat dit waar moet wees nie! Moenie dat dit waar moet wees nie!”

“Daar is altyd hoop dat hy lewe, Mila, maar die kans lyk nie goed nie,” sê oom Lourie sag.