Hierop verloor Mila se ma haar laaste bietjie selfbeheersing. Sy skreeu onbeheers en Cynthia bel hulle huisdokter, Karel Bosch. Hy is gou daar, spuit haar ma ’n kalmeermiddel in en troos haar met ’n sagte stem. Sy paaiende woorde slaag daarin om Leoni te laat bedaar. Karel en Leoni was jeugvriende en sy is sedert hy ’n dokter geword het, al sy pasiënt. Hy weet hoe om haar te hanteer.

“Kom, Leoni, kom, ek neem jou kamer toe, dan gaan lê jy. Die inspuiting gaan sy werk doen en jou laat slaap. As jy later wakker word, sal jy die dinge beter kan hanteer. Die inspuiting sal jou help om oor die skok te kom,” sê dokter Karel en Leoni laat haar willoos kamer toe lei. Hy laat haar op die bed lê en maak haar met die duvet toe terwyl sy aanhou mompel. Dokter Karel gaan sit in die leunstoel voor die bed totdat sy lomerig word.

Mila, wat nog heeltyd net binne die kamerdeur staan, kyk na die toneel van haar ma en dokter Karel. Sy voel vreemd onbetrokke by die mense en gebeure voor haar. Eintlik voel sy of sy buite haarself sweef. Dit is nie met haar wat hierdie onbekende ding gebeur nie. Vermis. Wie ken sy wat ooit vermis was? Wie ken sy wat in ’n vliegtuig was wat geval het? Hoe leef ’n mens sonder ’n pa? Met net haarself op die vasvrapaneel en net haarself as die kandidaat, voel sy of sy in die lug rondtrap met voete wat nie die grond raak nie. Die ergste is, die kandidaat ken nie een van die antwoorde nie, daar is nie vir haar enige vaste grond nie.

Uiteindelik sien dokter Karel vir Mila in die deur staan. Hy stap na haar toe en vra bekommerd: “Is jy oukei, Mila? Moet ek jou nie ook inspuit nie?” Hy vee met sy hand haar blonde hare uit haar gesig.

“Nee, ek is oukei,” sê Mila onoortuigend.

“Kom ek en jy gaan drink ’n bietjie tee. Soos dinge dit wou hê, is ek tot Vrydag met verlof en kan ek eers ’n bietjie hier by julle bly,” sê hy dan gerusstellend vir haar.

Ondanks haar teëstribbeling gaan haal hy vir haar ’n klein, wit pilletjie in sy sak en vra vir Sara om twee koppies sterk tee te bring.

Toe hulle later met die tee sit en die pilletjie sy werk begin doen, voel Mila meer in beheer, maar sê dan: “Dokter Karel, my ma het nie die guts om met hierdie krisis te cope nie, jy ken haar! Jy weet ek is reg,” sê Mila met al die wysheid wat sy in sestien jaar versamel het. Sy kan sien die dokter stem saam.

“Mila, ek kan jou vandag sê, party mense sukkel eers ’n bietjie om hulle voete te vind, maar elkeen het ’n innerlike sterkte wat eers na vore kom as dit nodig is of as hy of sy gedwing word. ’n Kuiken wat se dag om uit te broei gekom het, moet die dop stukkend pik, want die eier het te klein geword vir sy groei! As hy sterk is, sien hy die daglig. Anders nooit! Die sterkes pik sterk en kom dadelik uit en groei die vinnigste. Maar soms word die flou kuikentjie tog die wenhaan!” sê dokter Karel filosofies en vryf Mila se hand.

Mila knik. Hy is seker reg, sy het vertroue in sy opinie.

’n Rukkie later moet hy tog maar huis toe gaan, maar gesels eers met Cynthia en gee ’n paar instruksies. Vir Mila vra hy: “Wil jy nie jou vriend bel om na jou toe te kom nie? Dan sal dit ook beter vir jou wees.” Dan eers onthou Mila: Sy het nog nie vir Montaldo gesê nie! Sy het ook nie vir Carmen en Andrea laat weet nie. Sy sal hulle dadelik gaan bel, dink sy.

“Ek kom later weer,” sê dokter Karel en glimlag bemoedigend vir Mila.

Toe Montaldo sy selfoon antwoord, sê sy dit die eerste keer hardop vir iemand: “Montaldo, my pa word in die berge naby Ceres vermis.” Mila voel hoe haar hart in klein stukkies breek en tog bly dit klop in haar bors. “Die ergste is, ek weet van niemand wat vermis was en nog geleef het nie. Weet jy van so iemand?” vra sy hoopvol