mila het nooit geweet dat die tyd so stadig kan verbygaan nie. Teen tweeuur het die reën steeds nie opgehou nie. Haar ma slaap nog van die inspuiting wat dokter Karel haar gegee het en daaroor is Mila baie bly. Sy weet nie of sy nou met haar ma sou kon cope nie. Beslis nie terwyl sy self so verward voel nie. Montaldo het dadelik gekom toe sy hom gebel het. Dit help om hom by haar te hê, maar hy kan ook maar niks vir haar doen nie. Hulle sit in die sitkamer en sy staar onsiende by die venster uit. Montaldo sit ’n speletjie op sy selfoon en speel. Êrens in die huis hoor sy Cynthia oor die foon praat met een van die ontelbare mense wat bel om te hoor wat gebeur het. Gelukkig beantwoord Cynthia self die oproepe, want Mila sien nie nou kans vir die eindelose vrae waarop sy in elk geval nie die antwoorde ken nie.

Drieuur kom dokter Karel weer kyk hoe dit met hulle gaan. Teen daardie tyd is haar ma ook wakker en Cynthia bring vir haar roosterbrood en tee kamer toe. Haar ma eet dit gehoorsaam soos ’n soet kind dit sou doen. Sy is duidelik nog onder die invloed van die inspuiting. Mila voel sy kan kos nie oor haar lippe kry nie, maar op Cynthia se aandrang drink sy tog op die ou end ’n koppie kitssop. Sy drink dit sonder om dit regtig te proe.

Mila bel ’n slag vir oom Lourie om te hoor of daar nuus is en hy belowe om onmiddellik te laat weet as hy enigiets hoor. Eintlik weet sy hy sal dadelik laat weet, maar dit is verskriklik om net so te moet sit en wag, dink Mila.

Haar ma se vriendinne, Esmé en Hanneke, kom teen vieruur met ’n bak macaroni-en-kaas, ’n vleisrol en ’n tuisgebakte broodjie daar aan. Tannie Hanneke is al jare haar ma se vriendin en Mila dink altyd sy is die enigste een wat eg is. Die ander is so behep met hulleself en hulle status dat Mila nog nooit van een van hulle kon hou nie. Haar ma het tannie Esmé eers onlangs ontmoet en Mila ken haar maar sleg, maar sy lyk heel gaaf.

“Ons het vir julle kos gebring, ons weet nie hoe anders om te help nie. Waar is jou ma?” sê-vra tannie Hanneke bekommerd vir Mila.

“Sy en dokter Karel is in die kamer. Tannie-hulle kan sommer deurgaan soontoe,” antwoord Mila.

Cynthia kom die sitkamer binne en sê: “Ek het gereël dat ek vanaand hier slaap, Mila. Ek kan jou nie alleen met mevrou Leoni los nie.”

“Ek kan ook maar hier slaap,” bied Montaldo dadelik aan.

“Dit sal ook goed wees, maar ek gaan anyway bly,” sê Cynthia.

“Dankie, Cynthia. Wat sal ons tog sonder jou doen?” sê Mila en druk haar kop teen Cynthia se bors vas.

“Ek doen maar wat ek moet, kind. Hierdie is ’n slegte tyd vir almal,” sê Cynthia en speel met Mila se blonde hare.

Kwart oor ses die aand lui die voordeurklokkie. Mila gaan maak self die deur oop. Voor haar staan ’n bleek oom Lourie. Sy hare lê plat teen sy kop van die reën. Hy lyk moeg en ontsteld. Mila voel die ellende van die oomblik aan. Dit is of alles om hulle in ’n moment gevries het. Hy kyk lank na haar en dit lyk of hy nie weet wat hy moet sê nie. Uiteindelik kom die woorde wat soos skerp swaarde deur Mila steek: “Hulle het die wrak gekry, Mila. Ek’s jammer, jou pa het dit nie oorleef nie …”