Jare later gaan sy hierdie oomblik nog net so onthou, dink Mila en sy voel ’n warm sensasie in haar lyf opstoot. Sy sal onthou van die wit Audi wat op daardie oomblik in die straat verbygery het, die reuk van die oom se nat klere, die druppeltjies aan sy wenkbroue, die twee nat blare wat aan sy baadjie kleef en die pyn in sy oë. Veral gaan sy egter die vrees onthou wat haar heeltemal oorgeneem het, dink sy. Dit sal haar bybly hoe sy fluisterend vir haarself gevra het: “Wat nou?”

Oom Lourie kom die huis binne en gaan dadelik na haar ma se kamer waar die dokter, tannie Esmé en tannie Hanneke nog by haar ma is. Mila sien nie kans om by te wees as haar ma die nuus hoor nie. Sy stap verslae kombuis toe om ’n glas water te gaan drink en gaan sit langs die tafel. Die baie chroom van die kombuis lyk vanaand vir haar soos die dood. Die skemerlig van die reëndag lyk soos die dood. Alles is dood. “Dood!” sê Mila hardop en haar stem klink hol in die leë kombuis. Dan huil sy soos sy nog nooit in haar lewe gehuil het nie! Sy huil hartstogtelik oor haar pa wat sy nie goed genoeg en lank genoeg geken het nie.

Die res van die aand is vir Mila baie vaag. Mense kom en gaan. Sy beleef baie arms wat haar vashou en al die hande wat na haar uitgesteek word. Montaldo se hande wat haar arms vryf terwyl hy woorde oor hoop en ’n môre wat beter sal lyk in haar oor fluister. Tannie Hanneke wat met haar versorgde hande en goue ringe oor haar rug vryf terwyl sy trooswoorde sê. Later ook dokter Karel se mooi wit hand met ’n pilletjie in die holte daarvan, wat hy na haar uithou. Voor sy aan die slaap raak, vind sy egter vertroosting in Cynthia se bruin hande wat haar in haar nagklere help en haar duvet tot teen haar ken optrek. In die kunsmatige slaap hoor sy haar sê: “Toemaar, my baby, Cynthia sal vir jou sorg.”

Toe Mila die volgende oggend wakker word, is dit baie stil in die huis. Dan tref die werklikheid haar en sy sê dit hardop: “My pa is dood.” Sy sê dit oor en oor vir haarself: “My pa is dood, hy leef nie meer nie! Ek gaan hom nooit weer sien nie.”

Sy begin saggies snik. Hoe weird is dit? Sy is sestien en sy het net ’n ma oor, geen sussies of boeties en geen pa nie! Al was hulle nooit close nie, haar pa is haar pa, dink Mila. Dit was belangrik om te weet hy is altyd daar op die agtergrond. Miskien in Johannesburg, Botswana of Londen, dalk op pad om ’n groot transaksie te gaan beklink in New York, maar hy was altyd bereid om alles wat sy wou hê, vir haar te gee of te koop. Wanneer hy na dae se afwesigheid huis toe gekom het, het hy altyd ’n duur geskenk uit sy bagasie gehaal en met genoegdoening toegekyk met hoeveel blydskap Mila haar geskenk ontvang. Nou is daar ’n niks waar hy was, dink Mila terwyl die trane aanhou stroom.

Sy vee die trane met die punt van die duvet af en probeer troos uit die sagte materiaal teen haar wange put. Waar is haar pa nou? wonder Mila. Sy wonder ook oor haar pa en Jesus se verhouding. Hy het tog geglo, dit weet sy, maar sy voel onseker. Hulle het nooit daaroor gepraat nie en haar pa was nie eintlik ’n kerkmens nie. Hy het seker ook nie gedink hy sal nou al doodgaan nie, dink sy verward.