“Hoe gaan dit met my ma?” vra sy dadelik vir Cynthia toe sy ’n bietjie later by die kamer inloer.

“Na die tweede inspuiting wat die dokter haar gegee het, het sy heelnag geslaap. Sy was darem baie ontsteld gisteraand, maar jy sal min daarvan weet, want jy was self ook te geskok. Jou ma vat hierdie ding sleg, hoor! Gelukkig was die dokter nog hier. Hy is ’n goeie tjommie vir jou ma,” sê Cynthia en maak klikgeluidjies.

“Ja, hulle ken mekaar al baie jare. Is my ma al wakker?” vra Mila.

“Ek dink so. Gaan jy soontoe, ek bring vir jou en jou ma koffie. Daardie mannetjiemens van jou slaap ook nog,” antwoord Cynthia.

Mila loop kaalvoet en in haar nagklere na haar ma se kamer.

“Hallo, Mamma,” sê sy vir Leoni, wat na die plafon lê en staar.

“Mila …” sê haar ma en begin verdrietig huil.

Mila klim by haar ma in die bed en skuif styf teen haar aan, soos toe sy klein was. Hulle sê niks vir mekaar nie, die trane is net te veel. Hulle bly lank so lê. Dan vra Mila in ’n onseker stemmetjie: “Wat gebeur nou verder, Mamma?”

“Oom Lourie sal ons help om ’n diens te reël. Hy het ook beloof om met Pappa se sake te help. Ek weet niks daarvan nie,” antwoord haar ma in ’n stem vol emosie.

“Dis darem gaaf van hom,” sê Mila sag. Sy wens sy kon die donker gevoel vir een oomblik van haar af wegstoot.

Cynthia bring vir hulle koffie en hulle drink dit in stilte.

“Ek gaan maar aantrek,” sê Mila later en staan lusteloos op. Toe sy by die deur kom, sê haar ma agter haar aan: “Ek was ook sestien toe my ma dood
is …” Leoni sê net dit. Mila kyk oor die breedte van die vertrek na haar ma. Sy besef dit is haar ma se manier om ook haar, Mila, se pyn te erken en haar hart word warm …