Mila was al by ’n paar begrafnisse. Haar ouma en oupa is saam begrawe toe sy maar tien jaar oud was. Hulle het op ’n Paasmaandag in ’n kop-teen-kop-botsing gesterf. Al is dit jou ouma en oupa, is dit nie jou pa nie en as ’n mens tien is, lyk alles anders. Daardie dag het sy nie besef wat dit beteken dat haar pa se ouers vir altyd van hom weggeneem is nie. Hy was ook so privaat oor sy eie hartseer, hy het dit nie met haar of haar ma gedeel nie.

Mila luister na al die reëlings vir die verassingsdiens. Daar is baie klein besonderhede wat so onbenullig klink en wat moet aandag kry. Sy wil ’n slag skree en sê: “Wat maak al die nonsens saak! My pa is dood, ’n mooi lied of vers gaan niks verander nie!” As die diens egter aanbreek en sy en haar ma deur die massas blomme stap, is sy tog bly vir dié laaste eer aan haar pa. Sy hou haar ma se hand vas, want hulle het net mekaar. Haar ma was die enigste kind, syself is die enigste kind en haar pa het net ’n suster wat in Toronto, Kanada, bly en nie begrafnis toe kon kom nie. Gister het Mila gehoor hoe twee kennisse van haar ma vir mekaar sê: “Hoe kan ’n mens so ryk aan aardse besittings wees en so arm aan familiebande?” Dit is seker nogal vreemd vir ander. Haar ma het nog niggies, maar sy het nie eintlik kontak met hulle nie. Op die ou end is dit net hulle twee.

Die dominee lees uit Prediker 2. Hy benadruk dat die plesier wat ons in die lewe kry, miskien ons deel is vir ons harde werk, maar uiteindelik nie veel vir ons geestelike lewe beteken nie. Ons moet ook aktief tyd aan ons ewige bestaan wy.

In die begrafnisbrief het haar ma die woorde van Enya se “Only time” laat druk en dit is ook die lied wat sag speel as die diens klaar is en die mense die kerk verlaat. Die woorde volg Mila by die kerkdeur uit, die Kaapse somersdag in. Die hele pad huis toe bly die woorde deur haar kop maal.

Dit is so ’n grown-up liedjie waarna sy nie normaalweg sal luister nie, dink Mila, maar nou bring dit ’n eindelose treurigheid in haar. Dit is veral as sy na haar ma kyk, wat asvaal en stil langs haar in die motor sit, dat die laaste woorde wat vertel van ’n liefde wat sterf, haar net ontroosbaar wil laat huil.

Na die diens drink almal by Mila-hulle se huis tee. Daar is baie mense wat om Mila draai, haar hand skud of haar vasdruk. Hulle drink tee uit haar ma se fyn porselein en eet eksotiese happies spesiaal deur ’n spysenier voorberei. Alles is perfek gereël, maar die belangrikste persoon van die geleentheid wag sy beurt af om veras te word. Hoe siek is dit, dink Mila en voel naar. Mense met goeie bedoelings staan rond en sê trooswoorde wat vir Mila min betekenis het. Sy weet sy moet dit waardeer, maar sy kan dit nog nie regtig inneem nie.

Later, as almal weg is, gaan lê haar ma met ’n hoofpyn op haar bed. Montaldo wou bly, maar Mila het gevoel dit is nou tyd om alleen te wees. Cynthia en Sara hou hulle besig met opruiming en om die vragte kos wat oor is, weg te pak.

Op die ingewing van die oomblik stap sy na haar pa se kas, haal ’n sweetpakbaadjie uit en trek dit aan. Sy stap met die trappies af na die strand. Met die reuk van haar pa teen haar lyf voel sy minder alleen. Dan begin sy teen die wind in draf. Vanaand voel sy soveel ouer as sestien, dink Mila as die warm trane teen haar wange afloop.