die vrydag na die verassingsdiens kom sien die prokureur, Zak Faber, en oom Lourie, haar pa se vennoot, vir Mila en haar ma oor die testament. Mila voel nie eintlik dit is nodig dat sy ook by moet wees nie, maar oom Lourie en oom Zak dring daarop aan dat sy teenwoordig moet wees.

“Ek is bevrees ons het baie slegte nuus, Leoni,” sê Zak versigtig en begin aan hulle verduidelik in hoe ’n groot geldelike penarie haar pa verkeer het. Zak en Lourie praat en praat, teken sketse, maak somme en gee verduidelikings.

“Wag net!” keer Mila se ma op ’n stadium. “Julle kan verduidelik tot julle blou is, ek verstaan niks van finansies nie! Harold het nooit met my oor sy besigheid gepraat nie. Sê vir my in een sin wat julle eintlik bedoel!”

“Leoni, Harold was finansieel eintlik in ’n groot verknorsing. Hy het op ’n verkeerde tydstip ’n paar dom besluite geneem. Julle sal feitlik alles moet verkoop. Die huis, die strandhuis in Hermanus, die woonstel in Plet, die kantoorblok waar sy kantore is, die motors, die tweede vliegtuig en die boot sal so gou moontlik verkoop moet word om die skuld te delg. Is dit meer verstaanbaar?” vra Zak en kyk afwagtend na Leoni. Hy sien hoe die paniek in haar oë begin kom.

“Beteken dit ons is bankrot? Gaan ek niks oorhê nie? Wat van die polisse? Wat van sy beleggings? Hy was eintlik ’n baie ryk man, dan nie?” vra sy ontsteld.

“Nee, nie bankrot nie, Leoni, maar die beleggings is alles weg. Hy het lankal probeer om vure met daardie geld dood te slaan! Daar is nie los geld nie, maar as ons ons somme reg uitwerk sal jy, as alles in geld omgesit is, al die skuld kan betaal en nog geld oorhou. Jy behoort darem genoeg te hê om êrens ’n tweeslaapkamerwoonstel of so iets te koop en die geld wat oorbly, sal jy kan belê om darem ’n klein maandelikse inkomste te kan kry. Nie veel nie, maar nie ’n hongerloon nie. Dit sal moeilik wees, want julle sal glad nie die lewenstandaard waaraan julle gewoond is, kan bekostig nie. Mila sal byvoorbeeld na ’n gewone skool moet gaan en die huispersoneel sal moet
gaan …” antwoord oom Lourie prakties en vervolg: “Die studiegeld wat vir Mila belê is, sal nie aan geraak kan word nie, so, sy sal darem geld hê om te gaan studeer.”

Mila sê niks. Vir die tweede keer hierdie week gebeur iets met haar wat so groot is dat sy dit nie kan begryp nie. Êrens in die loop van die gesprek het sy besef dat sy vir Cynthia gaan verloor en dit oorskadu alles! “Net nie dit ook nie,” prewel sy. Cynthia is dan vir haar soos familie!

Leoni begin onbeheersd huil. “Hoe kon Harold dit aan ons doen?” roep sy uit. “Hoe kon hy ons in so gemors agterlaat?”

Zak en Lourie paai en praat mooi, maar dit is Cynthia wat met ’n kalmeermiddel en ’n glas water kom en sê: “Kom nou, mevrou Leoni, kwaad word sal nie help nie. Die dood kom haal jou sonder dat jy ’n keuse het. Meneer Harold is nie weg by choice nie.”

Leoni kyk na Cynthia en sê skerp: “Ek, Mila en jy is op straat, definitief ook nie by choice nie!” Cynthia kyk verward van die een na die ander.

“Hoe nou?” vra sy na die twee mans se kant toe.

“Cynthia, ek is jammer jy moet dit nou so hoor, mevrou Leoni is so ontsteld, maar die huis en ’n klomp ander goed sal verkoop moet word en sy sal nie meer die personeel kan bekostig nie. Maar ons kan later uitwerk wat kan en wat nie. Moet vir eers nie stres nie, dalk kan ons vir die werksmense ander werk kry,” verduidelik Zak Faber half verleë.

“Bless my soul, never a dull moment by die idle rich,” sê Cynthia en sak verslae op die naaste stoel neer.