“Hoe gouer die goed verkoop word, hoe beter,” verduidelik Zak. “Dit sal help dat daar meer aan die einde oorbly. Tyd kos geld op die oomblik. Die rente op al die skuld loop daagliks op. Moet jy oor niks bekommerd wees nie, ons beding die beste vir julle almal en handel so gou moontlik die boedel af.”

“Ek stuur ’n eiendomsagent na die huis. Julle moet solank julle goed begin sorteer. Leoni, ek sal jou kom kry, dan gaan kyk ons na ’n paar woonstelle. Jy kan dalk al koop met die voorwaarde dat hierdie huis eers verkoop word,” doen Lourie aan die hand.

Mila se ma antwoord hom nie eers nie. Sy staan op, loop na die drankkabinet en skink ’n glas half met vodka. Sy sien hoe hulle na haar kyk.

“Wat?” vra sy vir niemand in die besonder nie. “Ek het nou iets sterks nodig vir die skok. Verkoop julle maar die hele spul. Who cares!” sê sy en gooi haar arms in die lug.

“Ek ken iemand wat ’n boot wil koop. Ek sal hom laat weet om te gaan kyk en ek wil self graag na die woonstel in Plet gaan kyk,” sê Zak.

“Cynthia, ek sal kyk of ek vir jou werk kan kry. Dalk sal Sara vir een of twee dae ’n week nog by mevrou Leoni kan werk, maar jou salaris is te groot en jy kort ’n voltydse pos. Met jou sal ons ’n ander plan moet maak, maar eers moet jy mevrou Leoni en Mila help oppak sodat hulle so gou moontlik kan trek,” beduie Lourie ernstig vir Cynthia.

Die volgende dag begin Cynthia en Sara die goed sorteer en inpak. Mila besef gou dat haar ma min erg het aan die trekkery. Sy is aan die een kant nog geskok oor haar man se dood en aan die ander kant kan sy die ramp met die geld nie verwerk nie. Mila spring dus in en help kliphard. Soms loop sy met ’n paar artikels na Leoni. “Watter een van hierdie wil Mamma graag hou?” sou sy vra en Leoni antwoord dan onbelangstellend: “Besluit jy maar …”

Dit is vir Mila die moeilikste tyd van haar lewe. Tot nou toe het sy ’n bevoorregte bestaan gevoer waarin alles vir haar besluit is. Nou is sy skielik die een wat die besluite moet neem.

Gelukkig is Cynthia baie prakties en sien sommer self in wat hulle sal kan gebruik. Die duur Spal- en Noritake-eetstel en tweede Royal Albert-teestel pak sy apart. “Een goeie eetstel is al wat nodig is,” sê sy slim en voeg by: “Die ander het goeie verkoopswaarde. Miskien kan jou ma dit verkoop en ’n nodige geldjie inkry.”

Leoni lê óf depressief na die dak en staar óf sit met ’n glas wyn of vodka in die hand in die sitkamer en kyk met nikssiende oë oor die see uit.

’n Paar dae na die eerste aankondiging van die finansiële moeilikheid kom oom Lourie vir Mila en haar ma haal. Hy het drie woonstelle waarna hulle moet gaan kyk. Al drie is tweeslaapkamerwoonstelle in Groenpunt. Hy vertel hulle dadelik dat hy dink die herverkoopswaarde in die gebied is goed en sê ook watter een vir hom na die beste keuse lyk.

Mila is geskok. Sy is gewoond aan weelde en alles wat nuut is. Hierdie ou woonstel, alhoewel dit onlangs geverf is, is vervalle teen dit waaraan sy gewoond is. Sy besef egter dat hulle nie ’n keuse het nie. “Ek dink hierdie een is die beste koop, hoe voel julle?” vra oom Lourie en klink hoopvol.

“Whatever!” sê Leoni moedeloos en maak ’n afwerende gebaar met haar hand. Sy trek haar skouers op en sê: “Vir my is die een so goed soos die ander een. Hierdie een is seker maar reg!”