Oom Lourie sug en kyk moedeloos na Mila. Sy besef hy help hulle uit die goedheid van sy hart. Die firma wat hy met haar pa gedeel het, het ook skade gely en hy het ook geld verloor. Hy maak egter nog tyd om hulle te help, wat wonderlik gaaf van hom is. Gelukkig is hy ’n ryk man met nog ’n hele aantal ander ondernemings en sal die geldelike verlies nie vir hom ’n ramp wees nie, dink Mila.

“Ek dink dié een is oukei, Oom,” sê Mila en probeer om meer geesdriftig te klink as wat sy voel.

“Ek sal dan reël dat jy die dokumente môre kry om te teken, Leoni,” sê hy dan vir haar ma.

Intussen gebeur die verkoop van al hulle huise en ander eiendomme vinnig. ’n Indiërgesin uit Gauteng kom koop die huis waarin Mila-hulle bly en die prokureur, Zak Faber, koop die woonstel in Plettenbergbaai. ’n Afgetrede dokter uit die Vrystaat koop hulle strandhuis in Hermanus. Daar is ook kopers vir die boot en die motors. Oom Lourie stel ook voor dat haar ma haar eie motor, wat duur is om te onderhou, verkoop en ’n nuwe middelslagmotor koop. Daar is ’n klomp meubels en ander los goed, soos tuingereedskap en -meubels, wat ook verkoop kan word.

Mila se skoolgeld vir Januarie en Februarie is reeds die vorige jaar klaar betaal en sy gaan dus die derde week in Januarie terug na haar ou privaat skool toe. Daar is besluit dat sy die tweede kwartaal na ’n gewone skool sal gaan. Die finansiële penarie waarin Mila-hulle hulle bevind, veroorsaak dat Mila nie meer deel van haar groep voel nie. Daar is ook ’n hele paar van die graad elfs wat moeite doen om haar as ’n buitestander te brandmerk. Skokkend genoeg ook Carmen. Andrea is egter steeds baie besorg en jammer vir Mila. Dit ontstel Mila dat Carmen so afsydig is. Die tweede dag nadat die skool begin het, soek Mila gedurende pouse Carmen se geselskap op en vra reguit vir Carmen of hulle nuwe finansiële status haar pla. Sy het immers gedink hulle is beste vriende. Carmen is huiwerig om te praat, maar na ’n rukkie kom Mila tog agter dat Carmen se ma, wat ’n groot snob is, agter die verwydering sit.

“Ek is jammer, Mila, my ma wil nie hê ek moet met jou verbind word nie. Veral nie na al die stories oor jou pa se bedenklike deals nie!” verduidelik Carmen.

“Watse bedenklike deals?” vra Mila vinnig.

“Jy dink tog nie die geld wat hy verloor het, was deur dom beleggings en bad luck nie. My pa sê jou pa was ’n groot kansvatter,” sê Carmen driftig en sonder medelye.

Mila is nou baie ontsteld. Sy wil so vinnig moontlik van Carmen wegkom en stap badkamers toe. Sy moet eers hierdie inligting verwerk en daaroor dink. Terwyl sy egter in die toilethokkie is, hoor sy twee graad elfs by die deur inkom. Aan hulle stemme herken sy hulle as Esther en Wilna.

“Hoekom is Mila so omgekrap?” vra Esther.

“Ek dink dis oor Carmen met haar gepraat het oor haar pa. Hy is mos in die vliegtuigongeluk dood en nou vind hulle uit daar is amper niks geld oor nie. Hulle is basies arm. Party mense sê hy het selfmoord gepleeg oor hy geweet het sy besighede het moeilikheid,” vertel Wilna.

“Die mense sê hy was ’n groot skelm,” las Esther by toe sy gehoor het waaroor dit gaan.

“Ek kry Mila darem jammer. Sy kan nie daarvoor help nie. Dit moet erg wees!” sê Wilna.

Mila voel lam. Sy huil van woede, ongelukkigheid en verwarring. Dis haar pa wat hulle so beswadder, dink sy. Watter van al hierdie stories is dalk waar? En as alles waar is, wat dan? Hoe sal sy ooit weet? Sy sal nooit vir haar ma kan vra nie en oom Lourie …? Sal hy vir haar die waarheid vertel?

Die middag na skool vra Mila vir Lucky om haar na oom Lourie toe te neem.