“Ek moet vir Oom iets vra,” begin Mila huiwerig en dan vertel sy hom wat by die skool gebeur het. Toe sy klaar is, vra sy pleitend: “Oom, was my pa ’n skelm en het hy selfmoord gepleeg?”

“Milatjie, jou pa was nie ’n skelm nie. Hy was wel ’n geharde besigheids-man wat soms groot kanse gewaag het, maar hy was nie doelbewus skelm nie. Glo my! Wat die selfmoord betref, ek glo nie so nie. Die weer was baie sleg, maar wie sal ooit regtig weet? Glo jy maar dit was nie so nie, dit is wat ek graag wil glo!” verduidelik oom Lourie met deernis.

Mila voel sommer beter. Sy vat hom om die nek en soen hom op sy wang. “Dankie dat Oom ons so baie help!” sê sy met gevoel.

“Ek doen dit graag. Onthou, Harold was ook my vriend, hy was nie net ’n sakevennoot nie,” sê oom Lourie vriendelik.

Die tyd om te trek is nou naby. Om van die huiswerkers afskeid te neem is die swaarste, veral van Cynthia. Sara gaan nog Maandae en Vrydae by hulle in Groenpunt kom werk. Lucky het werk by die Holiday Inn gekry en Cynthia gaan nou by Montaldo-hulle werk. Simon was gelukkig om werk as ’n bode by oom Zak-hulle te kry. Sara soek nog werk vir die ander drie dae van die week, maar sulke werk is volop en almal hoop vir die beste vir Sara.

“Cynthia, ek is so bly jy gaan by Montaldo-hulle werk. Ek sal jou nog sien en jou kan bel. As ek natuurlik geld op my selfoon het, want my kontrak is mos gekanselleer na my pa se dood!” sê Mila moedeloos agterna. Dit voel vir haar asof sy alles verloor het.

“Ag, ou Milatjie, ek sal jou mos nie heeltemal los nie. Ek sal ’n bietjie kom kuier, net om met my eie oë te sien jy is darem oukei,” sê Cynthia en probeer tevergeefs om die trane af te vee.

Mila druk haar lyf styf teen Cynthia se stewige lyf vas. “Jy is mos soos my ma, Cynthia. Hoe kan ek jou nou verloor?” kerm sy en begin verdrietig huil.

“Mila, waar jy ook al gaan, pas die Here jou op. Jy kan Hom nooit verloor nie. Al is Cynthia nie daar nie, Hy is altyd by jou. Sal jy dit onthou?” vra Cynthia terwyl die trane oor haar wange rol.

“Ai, Cynthia, ek het my pa verloor, ek verloor jou, my huis, my skool en selfs Carmen wil nie meer my vriendin wees nie. Kyk hoe depressief is my ma. Ek voel soos Job in die Bybel!” sug Mila.

“O yes, maar onthou jy, aan die einde was Job nog meer geseënd as in die begin. Gaan lees jou Bybel. Keep the faith, my baby!” sê Cynthia slim.

Toe alles in die meubelwa gelaai is wat hulle trek na die woonstel toe gaan neem, klim Leoni dadelik in haar motor, sit haar sonbril op en staar voor haar uit. Sy wil hierdie trek en alles daarmee saam net verby kry, dink Mila. Toe Mila die deur gaan sluit, stap sy vir oulaas deur hulle leë huis. By haar kamervenster kyk sy lank oor die see uit. ’n Groot, wit boot vaar op die horison verby. Waarheen sou hy op pad wees? wonder sy soos altyd as sy ’n skip sien. Gaan die boot nog groot storms beleef voor hy by sy hawe is? Sy voel vandag ook soos daardie boot, dink Mila. Dit voel egter of sy klaar in die groot storm is en baie rondgegooi word. Cynthia sê die Here gaan oral saam met jou. Hy het eenkeer die storm ook stilgemaak, lees ons in Matteus. Miskien kan hy Leoni en Mila Hartman se storm ook stilmaak, dink Mila filosofies. “Keep the faith,” sê Cynthia mos en sý weet altyd alles!