die woonstel is binne stapafstand van die V&A Waterkant en Groenpunt-stadion. Dit is ’n ou gebou, maar na ’n rukkie voel Mila op ’n vreemde manier tuis. As al die meubels en bokse ingedra is, val Mila se ma op die rusbank neer.

“Mila, soek eerste die boks met die glase en haal ’n bottel wyn uit die kis. Dis wat ek nou nodig het!” sê Leoni met ’n sug.

“Moet ons nie eers die woonstel regkry nie, Mamma?” vra Mila verbaas. Sy moet erken, sy voel ook lus vir niks, maar sy besef hulle moet aangaan. Sy wil graag hulle ou huis terughê en so ook die ou lewe wat vir haar bekend is. In haar ou huis sou sy waarskynlik vanmiddag saam met Lucky Mall toe gegaan het. Sy sou kos op die tafel gehad het wat Cynthia voorberei het en sy sou haar kredietkaart na hartelus kon swipe, maar nie nou meer nie. Nou sal sy mooi moet kyk wat sy koop, dink sy en voel hoe ’n vae woede in haar begin opstoot.

Haar ma se drinkgewoontes begin haar ook meer en meer bekommer, dink Mila. Teen haar sin doen sy soos haar ma sê. Sy kry met moeite die boks waarop “Glase” met ’n swart merkpen geskryf is, haal ’n wynglas uit en gaan spoel dit in die kombuis uit voor sy dit vir haar ma gee. Dan kry sy ’n bottel rosé wyn en haar ma maak dit met ’n kurktrekker oop wat sy aan haar motorsleutels dra.

Mila begin rondsoek na haar lakens en duvet en ook dié van haar ma. Sy maak die beddens op en dit laat die plek klaar meer huislik lyk. Dit lyk ook vir Queenie meer na haar eie plek. Sy hou op om heen en weer te loop en klim tevrede op Mila se bed. Gou is sy vas aan die slaap. Die woonstel het gelukkig blinders, dus hoef hulle nie met gordyne te sukkel nie.

Sy begin haar klere in die kas pak, maar sien dadelik dat die ruimte hopeloos te min is vir haar klere. Mila sug. Dit ook nog, dink sy. Sy het alreeds haar oudste klere vir Sara gegee. Sy pak dus die warmste klere wat sy nie dadelik gaan dra nie, in die tasse weg en sit dit in die boonste kaste.

Oral staan nog tasse en houers met klere, grimering en allerhande besittings rond. As Mila die meeste goed weggepak het, knaag die hongerpyne. Leoni is nog steeds op die rusbank, besig met die laaste wyn in die bottel. Sy het die TV aan die gang gekry en lê nou na ’n vasvraprogram en kyk.

“Mamma, wat gaan ons eet?” vra Mila. Leoni hou die nou leë bottel omhoog en sê: “Ek is reg! Vat maar vir jou iets.” Mila skud net haar kop, maar daar kom lê ’n groot bangheid in haar hart. Sê nou dit is hoe hulle lewe nou gaan lyk? Sy op haar eie met ’n halfdronk ma? Sy skrik vir wat sy dink. Hoekom is haar pa tog dood? Hoekom? Hoekom? vra sy haarself.

Mila pak die kruideniersware in die kruidenierskas en kry ’n pak Provitas, Marmite en kitssop. Die koelhouers bevat al die yskas en vrieskas se goed en sy pak dit ook weg. Sy kry ’n bak gerasperde kaas en margarien tussen die ander goed. Sy smeer vir haar ’n paar Provitas met Marmite en kaas en soek tot sy ’n bekertjie kry om die sop in te maak. Die ketel, broodrooster en ander elektriese goed was alles saam in ’n mandjie gepak.