As sy klaar geëet het, gaan sy maar die res van die goed uitpak, dink Mila. So gaan sy nie aanhou sukkel nie. Later, nadat alles ’n plekkie in die kaste gekry het, vra sy vir haar ma geld vir brood en melk en stap af na die kafee wat net om die hoek is. Sy vra toe ook of die kafee-eienaar, Savvas, nie afvalvis vir Queenie het nie. Savvas, ’n baie vriendelike Griekse man wat sowat vier jaar gelede uit Santorini in Griekeland gekom het, belowe om die afvalvis in die vervolg vir Queenie te bêre. Arme Queenie sal fillet steak en vars vis nie weer sien nie. Sy is nie meer ’n bevoorregte kat nie, dink Mila en voel lus om te huil vir die situasie waarin sy, haar ma en selfs ou Queenie nou verkeer.

Die woonstelgebou is in ’n U-vorm gebou en binne is daar ’n pragtige tuintjie met bankies vir gebruik deur die inwoners. Dit is nou nice, as Montaldo kom kuier en hulle wil ’n bietjie alleen gesels, kan hulle hier in die tuin kom sit, dink Mila. Sy voel skielik weer onrustig. Die laaste twee weke het Montaldo al minder gebel. Hy was net een keer vinnig by Mila, met die verskoning dat hy besig is met sy voorbereiding vir universiteit. Hy is baie afsydig, dink Mila. Dit moet iets anders wees.

Toe Mila klaar vir Queenie gevoer het, stuur sy ’n SMS vir Montaldo om te kom kuier en te kom kyk waar sy nou bly. Eers kry sy ’n boodskap terug dat hy nie kan nie, want daar is te veel goed wat hy moet doen. Na ’n uur kry sy weer ’n boodskap dat hy vinnig kan kom, maar nie lank kan bly nie.

Montaldo sukkel om die feit dat hy allesbehalwe beïndruk is, weg te steek.

“Is jy tevrede om hier te bly, Mila?” vra hy ontsteld.

“Jy verstaan nie, Montaldo, ons kan nie anders nie!” antwoord Mila vies. Sy vertel van haar ma se reaksie. “Ek hoop nie dit is die begin van ’n nuwe leefwyse nie. Daarmee sal ek nie kan cope nie,” sê Mila bekommerd.

“Daar is iets wat ek vir jou moet sê, Mila,” sê Montaldo. Hy klink skielik baie formeel.

Mila voel meteens hoe die onrus weer in haar binneste roer. Sy kyk net vraend na hom.

“Die feit dat ek nou op universiteit is, gaan my lewe baie verander. Jy het jou eie lewe wat baie deurmekaar is op die oomblik. Ek dink ons moet vir eers uitmaak. Ons kan natuurlik vriende wees, maar ek dink dinge gaan nie uitwerk soos dit nou is nie, miskien later dalk …” sê hy, maar hy kyk nie in haar oë nie.

“Ek weet ek is nou te arm vir jou, Montaldo!” sê Mila gebelg. “Ek ken jou. Jy wil ’n wen-girl date! Ek kan jou nie dwing om by my te wees nie. Gaan as jy wil gaan!” Mila is na aan trane en haar stem wil-wil breek, maar sy neem haar voor dat sy nie voor hom sal huil nie! Sy gaan hom nie laat goed voel oor hy haar weggooi en sy oor hom tjank nie! Anyway, dink Mila, ek het alles wat ek gehad het, verloor. Hoekom nie ook vir Montaldo nie!