“Wag net ’n oomblik,” sê Mila en hardloop na haar kamer toe. Sy kom terug met ’n klomp geskenke wat sy by Montaldo gekry het, ook die pragtige Kersgeskenk wat hy in Londen vir haar gegee het. “Dè, vat dit. Ek wil dit nie hê nie!” sê sy en druk alles in sy hande. Hy kyk haar verward aan en bly ongemaklik staan.

“Hou die armband, dalk het jy later geld …” Voordat Montaldo egter “nodig” kan sê, ontplof Mila.

“Ek leef liewer saam met Queenie van die Griek se afvalvis as om te weet jou armband het vir my kos gekoop! Gee dit maar vir die joolkoningin wat jy seker een van die dae gaan kry en vergeet van arme Mila in die slums!” Mila is nou briesend. “Loop net!” beveel sy amper.

Toe sy die deur agter hom toemaak, stroom die trane. Nou is hy ook weg, dink sy ontsteld.

“Ek wil nie alleen wees met ’n ma wat drink nie! Ek wil nie hê my pa moet dood wees nie! Ek wil alles hê soos dit was!” kerm Mila hardop. Daar is egter niemand wat haar kan hoor nie. Sy snik en snik … Haar gesig is naderhand rooi en opgehewe. Sy gaan lê in ’n bondeltjie op die bed en wens sy was ook dood! Queenie voel haar ontsteltenis aan en kom skuur teen Mila se gesig. Sy vat die kat se wollerige lyf in haar arms vas en fluister in haar oor: “Ai, ou Queenie, jy is so ’n wonderlike kat! Ek het darem nog vir jou!” Dit kalmeer Mila, maar sy bly nog lank net so lê …

Later die aand bel Andrea. “Het julle klaar ingetrek, Mila? Is julle oukei?” vra sy en klink opreg bekommerd.

“Ja, ons is soort van ingetrek en seker maar oukei, dankie.” Dan begin sy weer huil. Die dag was net te veel vir haar.

“Moenie huil nie, vriendin,” sê Andrea simpatiek en vra: “Wat ontstel jou so?”

“Ag, sommer alles! Hoekom moet alles met my gebeur?” vra Mila kwaad.

“Alles sal regkom, jy sal net sien! Ek sal môre na kerk ’n draai kom maak, oukei?”

“Dis oukei, ja,” sê Mila lusteloos.

“Lekker slaap,” sê Andrea. Voor sy neersit, besef sy sy ken nie die adres nie en vra dit vinnig. Mila noem die naam van die woonstel en die straat en sit die telefoon neer.

“Ag, Mila, dié is nie so sleg nie! Dis nou nie waaraan jy gewoond is nie, maar dis tog nice!” sê Andrea die volgende oggend en klink heel positief. Sy tel Queenie op en druk haar vas en vryf haar sagte pels. Queenie begin spin van lekkerte.

“Montaldo dink heel anders,” sê Mila ongelukkig en dan kan sy nie meer die trane keer nie. Sy vertel vir Andrea van Montaldo se besoek en dat hy uitgemaak het.

“Ag, Mila, ek sê nog altyd Montaldo is ’n arrogante snob. Hy is nie een van jou trane werd nie. Vergeet hom, daar is baie visse in die see!”

Mila trek net haar skouers op. “Dis nie so maklik om iemand te vergeet van wie jy hou nie!” sê sy.

Mila vertel ook vir Andrea van haar ma se optrede vandat hulle hier aangekom het die vorige dag en van haar vrese oor haar ma.