Mila trek haar jeans en ’n T-hemp aan en gaan koop brood en kry Queenie se vis. Savvas is baie gaaf met haar.

“A, Mila, girl,” sê hy toe hy haar sien. “Voel julle al tuis?” vra hy met ’n swaar aksent in Afrikaans. Hy het al vir haar vertel hy leer Afrikaans praat. Hy kan glo al sewe tale praat. Grieks natuurlik, en dan Portugees, Spaans, Engels, Duits, Frans en Italiaans en nou wil hy Afrikaans leer.

“Ja, wat,” antwoord sy. Wat anders kan sy sê?

“As jy wil, kan jy my Saterdae kom help in die shop. Ek het hulp nodig, by die viskant,” bied hy aan. Mila sien hy hou van haar.

“Dankie, Savvas, ek sal daaroor dink,” sê Mila. Sy besef dat dit ’n manier is om ’n bietjie sakgeld te verdien. Haar ma het juis gesê sy gaan nou maar min kry, maar werk in ’n viswinkel? Sy wonder darem! dink Mila en trek ’n gesig.

Miskien moet sy eers ’n bietjie by die Waterkant gaan rondvra vir werk. Sy sal darem veel eerder in ’n klere- of juwelierswinkel wil werk. Sy stap op die ingewing soontoe en vra by ’n hele paar plekke, maar sonder sukses. Sy sal seker maar in die kafee moet gaan werk. Sy het die geld nodig, dink sy bedruk.

Toe Mila later terugstap woonstel toe, tref die andersheid van haar lewe haar. Mila Hartman gaan in ’n viswinkel werk en sy is oukei daarmee. Weird, dink sy.

Toe sy by die woonstel kom, gaan sit sy ’n oomblik op die bank in die binnetuin. Sy verlang na Cynthia en besluit daar en dan om haar gou te bel. Sy het nou nie meer ’n selfoonkontrak nie, maar sy het darem nog ’n voorafbetaalde pakket op haar foon.

“Haai, Cynthia,” sê Mila toe sy hoor Cynthia antwoord en sluk swaar aan die knop in haar keel.

“My baby!” roep Cynthia bly uit en vra dan bekommerd: “Wat is fout?”

“Nee, niks nie, ek mis jou sommer … Gaan dit goed met jou? Is Montaldo-hulle nice met jou?”

“Ja, maar dis anders, ek sal dit maar moet gewoond raak hier. Ek hoor so op die grapevine die mannetjie het jou gedrop? Ek het hom nog nooit lekker getrust nie. Hy’s te mooi vir homself. Ek sien hy eye homself in die spieël met so ’n ‘I love you’ look!” sê Cynthia en Mila lag.

“Ai, Cynthia, ek mis jou. Sal jy vir my kom kuier?” vra sy in ’n klein stemmetjie.

“Of course, yes, hoe anders, my baby! Hoe gaan dit met mevrou Leoni?”

“Ag, Cynthia, nie goed nie. Ek het haar vanmiddag vir die eerste keer so ver gekry om van die rusbank af te klim en op te hou drink. Sy is nou by Rika om haar hare mooi te maak. Dalk help dit.”

“Jy moet maar kwaai wees met haar, sy sal maklik uithaak,” waarsku Cynthia.

“Cynthia, ek gaan Saterdae in ’n viswinkel werk. Dit klink seker allesbehalwe cool, nè?” sê Mila.

“Well, well, Mila met ’n werk en dit in ’n viswinkel! Die lewe is vol surprises, darling!” lag Cynthia.

“Ek moet iets doen om ’n bietjie sakgeld te kry en die werk is my aangebied. Dis seker nie nou tyd om te stry nie!” sê Mila en praat dadelik verder: “Anyway, my selfoon se geld raak min. Jy moet onthou om te kom, hoor?” sê Mila en groet.

“Count on it. Bye!” antwoord Cynthia.