Mila weet sommer dis die ou groep waarvan sy ook deel was wat daar kom braai, maar Andrea voel te verleë om dit vir haar te sê. Sy kan Andrea ook nie kwalik neem nie, sy kan mos nie skielik al haar vriende los nie. Tog voel Mila baie eensaam. Sy soek tussen die radiostasies na lekker musiek en gaan lê op haar bed met ’n tydskrif, maar haar aandag is net nie by wat sy lees nie. Na ’n rukkie gaan kyk sy televisie en kry darem ’n fliek wat sy graag wil sien.

Saterdagoggend slaap haar ma nog toe Mila opstaan om by die kafee, eintlik die viswinkelafdeling, te gaan werk. Sy het finaal besluit dat dit die enigste manier is om geld in die hande te kry en het vir Savvas gaan sê sy neem die werk. Sy het nooit eers gewonder wat sy eintlik gaan doen en hoeveel sy betaal gaan word nie.

Toe sy daar kom, groet Savvas en sy nefie Pano haar asof sy ’n lank verlore vriend is! “Hi, Mila, jy is ’n early birdie, maar dis goed so! Nou kan ek jou gou wys wat om te doen voor die hele Kaap kom vis koop!” sê Savvas en begin sommer verder verduidelik: “Jy sal my voor by die till moet help, die ander hier agter werk met die vis. Jy neem die orders en stuur dit deur. Hulle maak die vis skoon, weeg dit en jy sorg dat elke customer die regte vis kry. Weet jy hoe werk die till?” vra Savvas en as sy haar kop skud, kry sy ’n blitsige les.

Teen tienuur is dit vreeslik besig. Die mense staan tou en Mila moet kophou. Sy kom nogal goed reg en almal is vriendelik met haar. Teen tweeuur se kant word die mense egter minder en ’n uur later sê Savvas: “Ek dink jy kan maar huis toe gaan, Mila. Jy het goed gedoen.” Hy gee vir haar die dag se loon in ’n koevert en Pano en die twee ander werkers, Fila en Timmy, klap hande.

“Ander dae hierdie tyd is ou Savvas so oorwerk, hy skree ons aan die brand! Thanks to you is alles vandag tops!” sê Pano in ’n mengelmoes van Afrikaans en Engels.

Dan onthou sy Queenie se vis en op die ingewing van die oomblik besluit sy ook om vir die huis vis te koop. Savvas wil nie hoor dat sy daarvoor betaal nie en Pano maak dit skoon en sny dit in mootjies. Met haar pakkie vis stap sy dan huis toe.

By die huis bêre sy die vis in die yskas en gaan kyk of haar ma in haar kamer is, maar sy is weereens nie daar nie. Die kamer is in ’n warboel. Die bed is nie opgemaak nie. Oral staan houertjies, potjies en blikkies grimering rond en ’n verskeidenheid klere lê gesaai oor die vloer. In die badkamer lyk dit ewe sleg. Die nat handdoeke lê op die grond en sy het vergeet om haar badwater te laat uitloop. Mila begin opruim. Wie anders sal dit tog doen? vra sy haar af.

Later die middag neem sy die voorgeskrewe boek waaroor sy Maandag toets skryf en gaan sit onder in die tuin en lees. Dit is nog net die reeks toetse, dan is dit vakansie en dan moet sy na ’n nuwe skool toe. Mila weet nie of sy spyt of bly is daaroor nie. Op die oomblik voel sy vreeslik ontuis in haar ou skool. Die meeste kinders beskou haar as iemand met melaatsheid of iets, dink Mila. Sy weet nie of dit oor die stories oor haar pa is of omdat sy nie meer geld het nie, maar sy pas nie meer in nie!