“Hallo. Ek het jou al ’n paar keer hier sien sit,” sê iemand skielik langs haar. Dit is ’n lang, maer outjie met ’n swartraambril.

“Hallo. Ek het jou nog nie hier gesien nie,” antwoord Mila en glimlag vriendelik vir hom.

“Ek bly ook hier, daar op die hoek in nommer ses op die grondvloer,” sê hy en wys na hulle woonstel.

“Ons is in 304 op die derde vloer. Ons bly nog kort hier,” verduidelik Mila.

“Ek weet. Ek het jou en jou ma gesien intrek. Dit is ook net ek en my pa wat hier bly. Hy is ’n musikant. Julle het hom seker al gehoor viool en klavier speel?” vra die lang ou.

“Ja, ek dink so. Laas Sondagoggend het ek gehoor iemand speel die tema uit Doctor Zhivago. Lara se tema, nè? Hy speel baie goed. Terloops, ek is Mila,” sê sy, skielik bewus daarvan dat sy nie eers weet met wie sy so lekker gesels nie.

“Het Mila ’n van?” vra hy aspris en met ’n lui glimlag.

“Hartman,” antwoord Mila en glimlag terug.

“Ek is Paul Serfontein. Kan ek maar hier by jou sit?” vra hy dan.

“Ja,” antwoord Mila.

“Waar kom julle vandaan?” vra Paul belangstellend.

“Llandudno, agter teen die berg,” antwoord Mila.

“En julle beland hier!” sê hy en lyk dadelik verleë.

“My pa is in ’n vliegongeluk dood en … Ag, dis ’n lang storie. Dalk wil ek jou eendag erg verveel, dan vertel ek jou die hele verhaal,” sê Mila.

“Jou ma is baie mooi,” sê Paul en voeg vinnig by: “Jy ook.”

Mila voel ongemaklik en skuif rond.

“Ek bedoel daar niks by nie, dis net ’n feit wat ek onderstreep. Jy is mooi, full stop,” verduidelik Paul kalm.

“Ouk-e-i,” sê Mila en voel steeds ongemaklik. Ouens van haar ouderdom sê goed nie op dié manier nie. Dié kind is weird! dink sy.

“En jou ma?” vra Mila.

“My ma het verdrink toe ek drie en ’n half was. Al herinnering wat ek van haar het, is waar ons iewers saam groen spookasem geëet het en die taaiheid so om haar mond bly sit het. Sy het my op my wang gesoen en daardie taai het op my wang agtergebly. Spookasem ruik vandag nog na my ma!” vertel Paul.

“Waaroor gaan ons nou praat, nadat ons binne ’n halfuur ons diepste geheime met mekaar gedeel het?” spot Mila liggies.

“Sorry, maar dis jou skuld! Ek voel ek kan jou alles vertel. Iets soos ’n instant biegmoeder. Ek is seker maar ’n bietjie weird,” sê Paul en lyk verleë.

“Ek hoop nie ’n biegmoeder nie! Ek is nog ver van ’n ma af! Jy moenie stres nie, jy’s nogal cute. Weird ook, maar cute!” sê Mila en lag oor sy verleentheid.

“Hoe voel jy oor God?” vra Paul meteens.

“Wat!” vra Mila en wonder of sy reg gehoor het.

“Waar staan jy met die Here?” vra hy weer. Mila kyk lank na hom. Sy sien hy het oë waarin die lig weerkaats, oë wat die waarheid ken, soos Cynthia altyd gesê het.

Sy swyg ’n rukkie en dink na. “Ons huishoudster, Cynthia, het altyd gesê ek is te privileged. Ons het te veel geld en ek ken God nie. Noudat ek nie meer die oorvloed geld het nie, worry ek so oor die gebrek daaraan, ek kon nog nie weer vir God in die saak inbring nie. Dit beteken seker ek staan nie eintlik êrens met die Here nie,” antwoord Mila nadenkend, skielik bewus daarvan dat sy nog nooit mooi oor die saak gedink het nie.