“Jy staan dalk nêrens met Hom nie, maar Hý staan iewers met jou!” antwoord Paul en glimlag vir Mila.

“Hoe kan jy so seker wees? Jy ken my skaars!” sê Mila en voel effens geïrriteerd.

“Ek ken jou nie, maar ek ken God! Hy het oneindig baie liefde vir almal, ook vir jou!” antwoord Paul.

“As jy geweet het wat ek alles die laaste paar weke verloor het, sou jy anders gevoel het!” sê Mila bitter.

“Was jou lewe in gevaar? Of was dit net geld en besittings wat jy verloor het?” vra Paul.

“Nee, my lewe was nie in gevaar nie, maar ek het mense vir wie ek baie omgegee het, verloor … en my huis en my pa …” sê Mila. Sy weet nie of sy lus is om verder met Paul te praat nie, hy verstaan tog nie.

“Huise en geld is nie belangrik nie. Vriende wat hulle laat verloor, was nooit vriende nie. Jammer om dit te sê! Ek is jammer oor jou pa, God het daarmee ’n dieper doel. Sy doel met so iets is nie altyd deursigtig nie, maar daar is altyd ’n plan daaragter,” sê Paul.

“Is alles vir jou so maklik om te weet?” vra Mila en sy klink sommer ongeskik.

“Bly net by my, dan word jy dalk ook slim!” sê hy grappenderwys en vervolg: “My pa bak die wonderlikste pasteitjies. Kom saam met my huis toe dan maak ek vir ons daarvan warm saam met koffie. Hoe klink dit?” Mila besef sy was seker te vinnig op haar perdjie en glimlag verlig.

“Dit klink vir my honger maag na die beste aanbod ooit!” sê sy en dink sy en Paul kan dalk groot pêlle word al het hy ooglopend ’n ernstige sy aan hom wat haar wil-wil kwaad maak. Wie weet, dalk is hulle nog bestem om best buddies te wees!

“Vertel my van julle huishoudster. Cynthia, het jy mos gesê?” sê-vra Paul ’n paar minute later terwyl hy die pasteitjies uit die vrieskas haal.

“Ek het dae nodig om jou van haar te vertel. Sy was nog altyd soos ’n ma vir my. Sy kan preek, hoor! Maar sy is sweet en genuine. What you see, is what you get!” sê Mila en haar oë word vol trane.

Sy vertel vir Paul van die episode met Jamie Oliver se resepteboek en lag weer saam met hom oor die hoofpyntablette wat sy vir Montaldo op Nuwejaar sommer so saam met die pep talk uitgedeel het! Sy vertel ook hoe goed Cynthia vir haar was toe haar pa verongeluk het.

“Sien jy, Paul. Ek het haar ook verloor en sy is soos ’n ma vir my!” sluit Mila hartseer haar storie af.

“Ek glo nie sy sal haar laat verloor nie, sy klink nie na daardie soort vriend nie,” troos Paul. “Onthou wat ek buite gesê het oor goeie vriende wat hulleself nie laat verlore raak nie.”

“Jy is dalk reg!” sê Mila. “Ek hoop in elk geval so.”

Mila en Paul eet die heerlike pasteitjies en hy ontdek ook nog ’n pak chips in die kas. Hulle praat sonder om na woorde te soek. Later stap hy saam na hulle woonstel. Sy wil gaan kyk of haar ma daar is, maar daar is nog steeds geen teken van haar nie. Hulle kyk saam na ’n fliek op TV en dan gaan Paul huis toe. Dis lank na twaalf toe sy haar ma hoor inkom.